"Uit die veld geslaan en dankbaar," het al drie die verbaasde Noord-Kaapse topmatrieks vir 2022 soos 'n koortjie laat opklink nadat hulle hul toekennings ontvang het.
"Ek het dit regtig glád nie verwag nie," sê Lize-Mari Loots van die Hoërskool Diamantveld in Kimberley, wat as die toppresteerder in die provinsie aangewys is. Dié skrander leerling het nie net sewe onderskeidings behaal nie, maar was ook die toppresteerder in die provinsie in die vak toerisme.

Sy gaan vanjaar bedryfsingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria studeer en wil daarna verder meganiese ingenieurswese studeer. "Enjins en stof" is wat haar gelukkig maak, sê die eg Noord-Kaapse meisie met 'n ondeunde glimlag.
Emae Fourie van die Hoërskool Duineveld in Upington, wat die tweede plek in die provinsie behaal het, was behoorlik oorbluf.
"Ek kan dit nie glo nie. Ek is so oorweldig en dankbaar." Dié slimkop gaan B.Com aktuariële wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch studeer. Sy het sewe onderskeidings in die eindeksamen behaal en is ook as die toppresteerder in wiskunde in die provinsie aangewys.
"Dit was heeltemal onverwags en ek is verskriklik dankbaar," is al wat Bennie Badenhorst van die Hoërskool Douglas met 'n breë glimlag kwytraak.
Hy het Donderdag nog aan Netwerk24 gesê hy hoop hy het agt onderskeidings gekry. En hy hét. Hy was een van drie leerlinge in die Noord-Kaap wat dit vermag het. Die ander twee is Renier Snyman van die Hoërskool Hartswater en Germaine Philander van die Kimberley Girls' High School.
Benewens die agt onderskeidings is Bennie ook die toppresteerder in Engels eerste addisionele taal in die provinsie. Hy gaan vanjaar sy studie in rekenaarwetenskap en wiskunde aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom begin en droom daarvan om eendag sy eie onderneming op die been te bring.
Altesaam 13 574 heeltydse kandidate het die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen in die Noord-Kaap afgelê, waarvan 10 072 die eksamen geslaag het. 'n Algehele slaagkoers van 74,2% is in die provinsie behaal. Dit was 'n verbetering van 2,8% vergeleke met 2021 se 71,4%.
Slegs nege skole in die provinsie het 'n 100%-slaagkoers behaal, terwyl 27 skole 'n slaagkoers van onder 60% gehad het.
Dr. Zamani Saul, Noord-Kaapse premier, het gesê die matriekklas van 2022 het merkwaardig goed gevaar en ondanks alles wat hulle die afgelope twee jaar deurgemaak het, het hulle akademies uitgeblink.
"Ons moet onthou dat hulle in gr. 10 was toe die Covid-pandemie verwoesting in die land gesaai het, veral in die onderwyssektor."
Saul sê dit het gelei tot aansienlike leeragterstande en baie min blootstelling aan formele assesserings, maar die leerlinge het met hul toewyding gewys wat bereik kan word.
Saul het daarop gewys dat die provinsie nie die nasionale gemiddelde slaagkoers van 80,1% behaal het nie, ondanks intervensieprogramme en verskeie ander pogings.
"Ons is sowat 6% onder die nasionale gemiddeld en dit dui op die werk en beplanning wat ons vanjaar moet doen."




















