Die eienaar van ’n bulterriër van Aliwal-Noord se hart is gebroke nadat haar geliefde vyfjarige tefie vermoedelik van haar plaas af gesteel is.
Amoré Emmerich (25) het Dinsdag aan Netwerk24 vertel dat haar bulterriër, wat spesiale behoeftes het, Saterdag spoorloos van die plaas verdwyn het.
Die hond se naam word op versoek van Emmerich weerhou terwyl sy soek is.
Volgens Emmerich het sy op Saterdag 25 April die oggend in Aliwal-Noord gaan werk nadat sy haar bulterriër op die plaas op die pad na Lady Grey gelos het.
“Ek het haar by my kêrel gelos terwyl ek die dag gaan werk het. Sy het teen 09:00 die oggend nog op die plaas rondgeloop, waar ons haar gesien het. Maar toe my kêrel se broer haar teen 10:00 soek, toe reageer sy nie.”
Emmerich sê haar kêrel se broer het in sy bakkie geklim en haar gaan soek, maar dat hy die hond nie in die hande kon kry nie.
Dit was ook onmoontlik vir dié hond om weg te loop aangesien al die hekke toe was.
“Ek het huis toe gekom en haar dadelik gaan soek. Ek het op my perd geklim en tot 19:30 die aand die hele plaas en die omgewing plat gesoek. Gewoonlik as ek fluit, kom sy dadelik. Maar sy was spoorloos.”

Emmerich vertel dat haar bulterriër met ’n gesplete verhemelte gebore is en dat sy haar van ’n dag oud af al onder haar vlerk ingeneem het.
“My ma teel met varkhondjies en die dag wat sy gebore is, het ek dadelik gesê ek sal haar vat.”
Volgens Emmerich moes sy tot ses weke wag dat haar gesplete verhemelte geopereer kon word, maar die veeartse het toe aan haar gesê dat die gat in die bulterriër se verhemelte te groot is.
“Ek is gesê dat ek haar Onderstepoort toe moet vat en dat hulle al veeartse het wat so ’n operasie kan doen. Die operasie sou my dan R12 000 kos.”
Emmerich het onmiddellik ingespring en ses weke lank geld ingesamel om haar vierpotige vriend die nodige operasie te gee. “Op die ou einde kon ek R13 610 insamel om haar in te vat sodat hulle haar verhemelte kon opbou.”

Ná die operasie was Emmerich en haar hond onafskeidbaar. “Ek het haar orals saam met my gevat. Ek het haar werk toe gevat, winkels toe gevat, selfs saamgeneem met vakansies. Sy was nooit nie aan my sy nie.”
Emmerich het ’n R1 000-beloning uitgeloof vir enigiemand wat haar hond aan haar kan terugbesorg.
“Twee mense het al gebel en gesê hulle het my hond, maar ek moet eers geld betaal. En ek sal. Maar eers sodra ek my hond in my arms het en sy veilig is. Ek sal onmiddellik die geld opgee sonder om te blik of te bloos, maar ek soek net my hond. Sy is my baba.”
Emmerich sê sy het geen idee hoekom iemand haar hond sou vat nie.
“Sy is die rustigste hond met die lieflikste persoonlikheid en sy is so onskuldig. Sy is gesteriliseer en kan nie mee geteel word nie en sy kan met haar opgeboude verhemelte ook nie sekere goed doen nie. Ek weet nie of sy gevat is om te verkoop of mee te baklei nie, maar ek wil haar net terughê. Ek sal enigiets doen om haar terug te kry.”
– elizna.henderson@media24.com
*Elizna Henderson is ’n Netwerk24-beursjoernalis.





















