Soos sy oudste broer en suster, is Mikael von Eschwege (18) ook onder die uitblinker-matrikulante wat genooi is na die jaarlikse Well Done-geleentheid, wat die Vrystaat se toppresteerders vereer.
Mikael, wat aan Grey Kollege Sekondêr in Bloemfontein matriek geskryf het, het nege A's in die eindeksamen behaal. Hy het onderskeidings in Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, musiek, fisiese wetenskappe, wiskunde, lewenswetenskappe, lewensoriëntering, Duits tweede addisionele taal en addisionele wiskunde behaal.

Mikael was Donderdag "taamlik" rustig nadat hy vroeër die dag ingelig is dat hy een van die uitblinkers in die provinsie is wat na die Well Done-geleentheid genooi is.
Sy broer, Daniel (klas van 2017), en suster, Gabriela (klas van 2019), is ook destyds na dié geleentheid genooi. Albei sy sibbes het agt onderskeidings behaal.
Daniel doen tans sy meestersgraad in ingenieurswese in München en Gabriela is 'n mediese student in haar vierde jaar aan die Universiteit van die Vrystaat (UV).
Hul pa, Karel, is 'n professor in chemie aan die UV en sy ma, Kornelia, is 'n tuisteskepper.
Mikael se raad aan matrieks is om in die klas op te let.
"As jy luister in die klas, is 80% van die werk reeds gedoen. Dit was my persoonlike ervaring."
Hy gaan vanjaar data-ingenieurswese aan die Universiteit van Stellenbosch studeer.



















