Die Kovsie Alumni-trust beskou sy borgskap van R100 000 vir die Matrikulant van die Jaar-kompetisie van die Universiteit van die Vrystaat (UV), Netwerk24 en Volksblad as 'n belegging in vele jongmense se lewens.
Met die aanbied van die kompetisie word die room na die UV en Bloemfontein gelok, sê Esmé Aucamp van die trust.

Aucamp, wat ook die sameroeper van die beoordelaars is, beskou dit as 'n voorreg om by die kompetisie betrokke te wees. "Daar is soveel negatiewe goed aan die gang en dit is lekker om in die eindronde met 14 positiewe jongmense te werk."
Drie van 2021 se finaliste, Zelmé Heyns, Kgosatsana Mabalane en Duan Maritz, is baie seker dat hulle die regte studiekeuse uitgeoefen het. Al drie is mediese studente in hul eerste jaar.
Heyns, wat in Senekal op skool was totdat sy in gr. 10 na die Hoërskool Witteberg in Bethlehem geskuif het en verlede jaar daar gematrikuleer het, vertel sy wou 'n aktrise word, maar omdat haar ma 'n sielkundige is, het sy dit ook sterk oorweeg. Nadat sy egter in gr. 11 by 'n chirurg skaduwerk gaan doen het, was sy seker sy wou 'n dokter word.
Mabalane, 'n gebore Bloemfonteiner wat aan die St. Michaels-skool in Bloemfontein gematrikuleer het, sê sy geniet die meeste van die modules. Hoewel die gereelde toetse taai is, moes sy ook leer om buite die boeke te leef. Haar passie is politiek, mense en positiewe verandering, en die mediese rigting sluit vir haar alles in.

Hoewel Maritz in Bloemfontein gebore is, het hy verlede jaar aan die Hoërskool Witteberg in Bethlehem gematrikuleer. Hy het op verskeie plekke skaduwerk gedoen - by 'n hospitaal, 'n veearts en selfs op 'n plaas. Medies is vir hom die regte keuse en is vir hom uitdagend.
Prysgeld en beurse van meer as R235 000 is op die spel vir die 25 semifinaliste in die kompetisie waaraan gr. 12-leerlinge van oor die land heen, wat beoog om volgende jaar aan die UV te studeer, kan deelneem.
Die wenner en 13 finaliste ontvang prysgeld van die borge Kovsie Alumni-trust, Mazars, Absa en Pick n Pay Preller Walk, beurse van UV Studentewerwingsdienste, asook die eindronde-geleentheid in Bloemfontein en geskenke ter waarde van R10 000.
Die ander 11 semifinaliste ontvang prysgeld van Kovsie Alumni-trust en beurse van UV Studentewerwing.
Alle inskrywings word volgens vaste kriteria beoordeel en 25 semifinaliste word aangewys. Altesaam 14 finaliste, wat uit die 25 gekies word, neem aan die eindronde van 4 tot 6 Oktober in Bloemfontein deel. Die wenner word ná die eindronde, waarin onderhoude met die finaliste gevoer en hulle aan spansessies deelneem, aangewys.
Inskrywings moet die UV voor of op 6 Augustus bereik.
Vir inskryfvorms of meer inligting, stuur e-pos na Linda Greyling by greylinl@ufs.ac.za.
















