Matrieks

‘Wegloopkind’ sien ’n blink toekoms

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Natasha Venter Foto’s: VERSKAF
Natasha Venter Foto’s: VERSKAF

Sy het in vrees gelewe dat sy eendag soos haar ouers sal opeindig. Maar nou het Natasha Venter (18) matriek deurgemaak en dinge lyk goed, sê sy.

"Jy het 'n keuse om die kettings te breek wat in jou familie loop. My pa was 'n weeskind en my ma is uit die huis geskop toe sy swanger geraak het. Daar was net hierdie bose siklus. Ek het nou al so ver gekom en dit kan en gaan net beter word," sê sy met 'n glimlag.

Sy het matriek met drie onderskeidings en met toelating tot graadstudies aan die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch geslaag.

Natasha saam met haar hond, Cloud.
Natasha saam met haar hond, Cloud.

Natasha, saam met haar ander twee sibbes, is in 2009 deur haar ma na die Huis Andrew Murray in Wellington geneem.

Sy het tien jaar by die kinderhuis gewoon totdat sy in 2019 na Stellenbosch gegaan het en by haar pleegouers, Chris en Adele de Villiers, gaan woon het.

"Die kinders en almal by die kinderhuis het soos my familie gevoel, want dit is die mense met wie ek grootgeword het. Ek het 'n huismoeder gehad, Sheila Scheepers, vir wie ek baie lief was. Haar familie het soos my eie familie gevoel.

"Tannie Adele en oom Chris ondersteun my en my suster, Nicole (20), baie. Hulle neem ons kerk toe en moedig ons altyd aan om beter te doen."

Maar dinge by die huis was nie altyd maklik nie, sê Natasha.

Sy en haar suster het aan die einde van 2021 van die huis af weggeloop terwyl hulle in Plettenbergbaai met vakansie was, sê Natasha.

"Die bedoeling was nooit om vir ewig weg te loop nie. My suster wou net wegkom vir die vakansie van alles en almal. Sy het vir my gevra gaan ek saam of gaan ek bly. Ek het toe ingestem en my suster ondersteun in haar besluit.

"Maar toe loop dinge skeef omdat die persoon wat ons sou kom help het 'n maatskaplike werker geken het. Toe vat hulle ons Knysna-kinderhuis toe," vertel sy.

Volgens Natasha het hulle vir drie weke by die kinderhuis deurgebring en hier het hulle albei baie geleer.

"Ons het nie verstaan hoekom ons daar was nie, en hoekom dinge nou so uitgedraai het.

"Toe sê my sussie kom ons maak die beste van 'n slegte saak. Ons het daar en dan begin Bybelstudie doen met die kinders en vir hulle probeer help met dit waarmee ons as kinderhuis-kinders gesukkel het.

"Ons het vir hulle gesê hulle is belangrik en daar is hoop. Net omdat jy in 'n kinderhuis bly beteken nie dit is die einde nie.

"Daar is mense van buite wat sê jou ouers het jou gelos, jy beteken niks. Mense kyk neer op jou omdat jy van die kinderhuis af kom. Dit was vir my 'n lewensles. Ek hoef my nie vas te kyk aan my wonde nie. Ek kan ander kinders wat in dieselfde situasie is, help."

Natasha sê sy is baie dankbaar vir haar pleegouers dat hulle haar en haar suster in die huis verwelkom het ná hul tyd in Knysna.

"Ek het dit baie waardeer.

"Ek het 'n tweede kans gekry om dinge oor te doen en ek kon by my hond en suster wees."

Sy vertel verder dat sy aan die begin van 2023 besluit om ook vir 'n ruk uit die huis te trek.

"Ek het net tyd af gevat. Ek het by my een vriendin se ouers gaan bly. Hulle het my laat besef waarmee ek sukkel. Ek sukkel om mense in my hart in te laat, asook om mense as familie te aanvaar. Ek het daardie wonde van ‘Gaan familie bly?', want ek is nie gewoond aan dinge wat permanent is nie.

"En hulle het vir my gewys dat ek die een is wat mense wegstoot, mense stoot nie vir my weg nie. En dan dink ek hulle maak my seer, maar dit is eintlik ek wat my hart teenoor almal wat rondom my is, toemaak.

"Ek het daarna teruggekom en besluit om aan my verhoudings werk. Dit beteken nie dat die verhouding perfek moet wees nie, maar ek het besluit om my deel te doen om die verhouding te versterk."

Volgens Natasha was haar matriekjaar ook bietjie stresvol, want haar jonger broer en suster, wat ook in die kinderhuis gebly het, het by haar ma in Johannesburg ingetrek.

"My ma het nog nooit na haar eie kinders gekyk nie en ek het bietjie gestres dat hulle na haar toe gaan. Dit was moeilik vir my om daardie stres te hanteer en dat hulle nie in 'n skool is nie en dat hulle dalk nie 'n toekoms gaan hê nie.

"Ek hoop en vertrou dat ek hulle kan help om plek in 'n skool te kry sodat hulle ook 'n toekoms kan hê."

Natasha sê dat haar punte baie afgehang het van wat in haar lewe gebeur, maar het ten spyte daarvan hard probeer werk.

"Toe ek sien hoe dinge in plek val, het ek aansoek gedoen by Stellenbosch om 'n BA-graad te doen en ek mag dalk moontlik 'n beurs ook kry. Ek voel ek het 'n toekoms."

Volgens Natasha wil sy graag op politiek fokus.

"Ek voel al my hele lewe ek kan 'n probleem oplos en ek hou daarvan om probleme op te los. Ek is geroep daartoe en ek kan lank debatteer oor politieke onderwerpe. Ek voel ek kan die regering regruk," skerts sy.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM