Matrieks

Wiskundevraestel verloop goed, maar daag ook uit – Saints-matrieks

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Afgesien van 'n paar haakplekke, waaronder 'n vraag oor euklidiese meetkunde, het matrieks aan die St. Andrew's School (Saints) in Bloemfontein lekker geskryf aan die grootste deel van die tweede wiskundevraestel.

Veral vraag 10.3, oor Euklidiese meetkunde, het Maandag dié leerlinge se breinkrag getap. Dié sespuntvraag was gelukkig die laaste vraag in die vraestel.

Matrieks aan die St. Andrew's School (Saints) in Bloemfontein Maandag nadat hulle die tweede wiskundevraestel afgelê het, is van links Howard Wang, Wendall Davids, Nabeel Seedat, André du Preez en Lodewyk Barnard.  Foto: Mlungisi Louw
Matrieks aan die St. Andrew's School (Saints) in Bloemfontein Maandag nadat hulle die tweede wiskundevraestel afgelê het, is van links Howard Wang, Wendall Davids, Nabeel Seedat, André du Preez en Lodewyk Barnard. Foto: Mlungisi Louw

"Dit was regtig 'n baie goeie vraestel. Daar was vir my 'n paar probleemareas waarvoor ek nie dink ek genoeg geleer het nie, maar die grootste deel van die vraestel het glad verloop," sê Wendall Davids.

Hy, asook sy klasmaat André du Preez, meen die vraestel was uitdagender as die eerste vraestel, maar makliker as die rekordeksamen se tweede vraestel.

"Ek dink ek gaan taamlik goed vaar, in die hoë 70's," sê Wendall oor dié vraestel.

Vraag 1 en 2, oor statistiek, en vraag 3, oor analitiese meetkunde, was vir hom baie maklik.

Hy het by die trigonometrie-vrae 5.3.1 en 5.2.3 kleigetrap, sowel as met vraag 10.3.

Wendall het wel al die vrae beantwoord.

André sê dit het baie goed gegaan en hy glo hy gaan in die 90% vir die vraestel kry.

Veral die statistiek-vrae was vir hom baie lekker.

Hy het die hele vraag 10, wat 15 punte getel het, uitdagend gevind, maar dit was vir hom lekker toe hy uiteindelik die vrae uitgepluis kry.

Vraag 5 was vir hom taamlik uitdagend, veral 5.2.1, wat vier punte getel het.

Matrieks aan die St. Andrew's School (Saints) het die meerderheid van die tweede wiskundevraestel kafgedraf. Van links is Howard Wang, Wendall Davids, Nabeel Seedat, André du Preez en Lodewyk Barnard.  Foto: Mlungisi Louw
Matrieks aan die St. Andrew's School (Saints) het die meerderheid van die tweede wiskundevraestel kafgedraf. Van links is Howard Wang, Wendall Davids, Nabeel Seedat, André du Preez en Lodewyk Barnard. Foto: Mlungisi Louw

Howard Wang hoop ook om meer as 90% vir die vraestel te behaal. Wiskunde is sy beste vak.

"Dit het baie goed gegaan; ek het dit geniet."

Howard sê die vraestel was min of meer op dieselfde vlak as Vrydag s'n.

Dit het hom 'n ruk geneem voordat hy uiteindelik 'n antwoord by vraag 10.3 kon neerpen.

Die statistieke-vrae was vir hom baie maklik en vraag 3 en 4, oor analitiese meetkunde, was ook goed.

Nabeel Seedat sê buiten vraag 10.3, waar hy die antwoord verkeerd bereken het, was die res van die vraestel maklik genoeg.

Vraag 3 het baie van sy tyd in beslag geneem, omdat hy vraag 3.7 oorgekompliseer het, sê hy.

Nabeel is bang hy het simpel foute in die vraestel gemaak, omdat hy nie tyd gehad het om sy antwoorde weer deur te lees nie.

Nabeel Seedat (heel links), Howard Wang en Wendall Davids, matrikulante aan die St. Andrew's School (Saints), bespreek Maandag se tweede wiskundevraestel.  Foto: Mlungisi Louw
Nabeel Seedat (heel links), Howard Wang en Wendall Davids, matrikulante aan die St. Andrew's School (Saints), bespreek Maandag se tweede wiskundevraestel. Foto: Mlungisi Louw

Craig Allwright, wiskunde-onderwyser aan dié skool, meen dit was 'n baie regverdige vraestel wat 'n wye verskeidenheid vaardighede getoets het.

"Dit het genoeg gebied vir die swakker kinders om die minimum slaagsyfer te behaal, maar ook om jou sterker kinders effens uit te daag."

Hy sê die vraestel het lekker gevloei. "Die uitdagende subvrae is aan die einde van die vrae gestel, wat beteken tydbestuur was 'n bietjie beter. Ek dink die kinders sou daarom ook meer selfvertroue gehad het."

Volgens Allwright het die vraestel wat die Vrystaatse onderwysdepartement vir die rekordeksamen opgestel het, 'n goeie standaard vir dié vraestel gebied, veral wat trigonometrie (vraag 5) betref.

Matrieks sou vraag 5.2.3 uitdagend kon vind, maar dit het slegs twee punte getel, sê hy.

Allwright sê vraag 3.7 en 3.8 by die analitiese meetkunde sou baie moeilik gewees het, as leerlinge vroeër in die vraag gefouteer het.

Vraag 10 kon baie moeilik wees as leerlinge nie die inligting aan die begin van die vraag mooi gelees het nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM