'n Karate-leerling van die Bergrivier Senior Sekondêre Skool in Wellington spog met dubbele Protea-kleure.
Die gr. 10-leerling Cody Hammond (15) is die eerste karateka in die Kaapse Wynland-distrik wat Protea-kleure vir kata en kumite verwerf het.
"Dit is 'n besondere en buitengewone prestasie vir enige karateka. Dit verg ongelooflike opoffering en harde werk," sê hy met trots.
Cody is verbonde aan die Patrick Ross-karate-akademie in die Paarl waar hy die afgelope tien jaar karate beoefen.
Volgens Cody het hy op vyfjarige ouderdom sy eerste karateklas bygewoon en daar was geen keer aan hom nie.
"Dit leer jou respek, dissipline, deursettingsvermoë en om te fokus, veral in kompetisies. Jy moet hard oefen en jou goed voorberei - fisiek en emosioneel - veral in kumite," verduidelik Cody.
Hy wil graag eendag sy land by die Olimpiese Spele verteenwoordig. Sy rolmodel is Rafael Aghayev, 'n karateka van Azerbeidjan wat 'n silwermedalje in humite gekry het by die Olimpiese Spele in Tokio in 2020.
Hy is tweede op Karate Suid-Afrika (KSA) se ranglys.
Hy gaan in Junie aan die kampioenskap van die Unie van Afrika-karate-federasies (UFAK) in Namibië deelneem.
"Dis my eerste internasionale toernooi om my land te verteenwoordig. Ek het vyf jaar lank hard gewerk en moes aan elke toernooi gaan deelneem.
"My ouers moes baie insit om my daar te kry. Ek wil graag goud vir ons land terugbring. Ek is supertrots om deel te wees van die span wat daar gaan deelneem," voeg hy by.
Verlede jaar was hy en sy span 'n finalis vir span van die jaar van die Kaapse Wynland-sportraad.
Hy is ook as junior sportman van die jaar aangewys by die Patrick Ross Karate-akademie en die Kaapse Wynland Karatefederasie.
"Ek is ook Wes-Kaap Karate se beste kata- en kumite-karateka. Dit maak my besonder trots, want ons werk baie hard om bo uit te kom. Ek wil ander inspireer om nooit moed te verloor nie."
Hy wil graag eendag sy land by die Olimpiese Spele verteenwoordig. Sy rolmodel is Rafael Aghayev, 'n karateka van Azerbeidjan wat 'n silwermedalje in humite gekry het by die Olimpiese Spele in Tokio in 2020.
Ná skool wil hy hom graag as rekenaarprogrammeerder of rekenmeester bekwaam.





















