Op 30 Augustus het jong entrepreneurs hul ondernemings met trots by die vierde jaarlikse Vusa Markdag in Langa ten toon gestel.
Altesaam 40 gr.7-leerders het die geleentheid gekry om klaskamerkennis in die praktyk toe te pas deur middel van kreatiewe ondernemings.
Van kosverkoping tot karnavalspeletjies en kunswerke – die kinders het hul entrepreneuriese talente met trots gewys.
Een van die uitblinkers was die Pandas Kitskos-stalletjie, terwyl ’n ander groep met hul lekkergoedstalletjie R400 verdien het deur toffie-appels teen R5 stuk te verkoop.
Lebo Mokoena, programbestuurder by Vusa, beklemtoon die waarde van praktiese leer: “Hierdie markdag bied ’n platform waar leerders vaardighede soos wiskunde, Engels, kodering, openbare redevoering en spanwerk in die werklike wêreld kan toets.”
Die sukses van die dag is moontlik gemaak deur ’n sterk vennootskap tussen Vusa Rugby & Learning Academy, Capitec Bank en Shoprite. Jean Rossouw, hoof van KMI en finansiële opvoeding by Capitec Bank, het die program se sukses geloof, terwyl Shoprite-produkte geborg het om die jong entrepreneurs te ondersteun.
Fezeka Stuurman, ’n ouer van Western Province Prep School (WPPS), was beïndruk met die entrepreneuriese vaardighede wat die kinders ontwikkel het.
Gus van der Spek, nog ’n WPPS-ouerlid, het die inisiatief se positiewe impak op die gemeenskap geloof.
Die dag is afgesluit met ’n opwindende o. 13-rugbywedstryd tussen Vusa en Western Province Prep School, wat die gees van samewerking en gemeenskapsbou verder versterk het.
Vusa Rugby & Learning Academy, wat meer as 20 jaar gelede deur Brendan Fogarty gestig is, bied ’n holistiese benadering tot opvoeding met akademiese ondersteuning, gestruktureerde sport, musiekprogramme en daaglikse maaltye.
Die organisasie se missie is om kinders te bemagtig om armoede te oorkom deur betekenisvolle geleenthede.













