HG Junior

Vir skooltake: Die storie van tee

Tee is 'n warm drankie wat jy maak deur die gedroogde blare van die teeplant in kookwater te laat trek. Tee is baie gewild in lande in Asië, die Midde-Ooste, Europa en voormalige Europese kolonies.

Die meeste teesoorte is swart of groen, maar albei is van dieselfde plant afkomstig. Die teeplant het sy oorsprong in China, maar word nou in baie lande verbou, selfs op klein skaal in Suid-Afrika. Ons leer jou waar tee vandaan kom.

Legende

Die verhaal van tee begin in China met die mitologiese keiser Shennong. Sy naam beteken "goddelike boer" en hy word as die uitvinder van landbou en 'n grondlegger van die Chinese kultuur beskou.

'n Afbeelding van die mitiese Chinese keiser Shennong. Foto: Facebook/Davudova
'n Afbeelding van die mitiese Chinese keiser Shennong. Foto: Facebook/Davudova

Volgens oorlewering het hy sowat 4 500 jaar gelede die genesende werking van die teeplant opgemerk en toevallig tee as drankie ontdek toe die wind teeblare van die plant Camellia sinensis afgewaai en dit in die water beland het wat hy pas laat kook het.

Daar steek natuurlik geen waarheid in dié volksverhaal nie, maar tee is al baie eeue in China bekend. Dié warm drankie was so gewild in China dat die skrywer Lu Yu laat in die agtste eeu die boek Chajing ("Die Boek van Tee") geskryf het. Tee het ná hierdie tyd ook in Japan gewild geraak.

Boeddhistiese monnike van Japan wat in China gaan studeer het, het dié gebruik saam met hulle teruggeneem Japan toe. Die teeseremonie het 'n belangrike deel van die Japannese kultuur geword.

Die Japannese tee­seremonie sluit in die voor­bereiding en aanbieding van matcha,  'n groentee in poeiervorm. Foto: Gallo Images/Getty Images
Die Japannese tee­seremonie sluit in die voor­bereiding en aanbieding van matcha, 'n groentee in poeiervorm. Foto: Gallo Images/Getty Images

Tee na Europa

Portugese ontdekkingsreisigers en handelaars het tee as drankie in die Ooste leer ken. Die eerste verwysings na tee in Europa dateer uit die laat 16de eeu. Maar dit was die Nederlanders wat tee as handelsware na Europa begin invoer het.

Hoe drink jy jou tee? Met melk en suiker? Party mense verkies suurlemoen en heuning in hul tee. En baie mense drink dit sonder versoeting. Geniet dit - hoe jy ook al van joune hou. Foto: Gallo Images/Getty Images
Hoe drink jy jou tee? Met melk en suiker? Party mense verkies suurlemoen en heuning in hul tee. En baie mense drink dit sonder versoeting. Geniet dit - hoe jy ook al van joune hou. Foto: Gallo Images/Getty Images

Nadat hulle hul handelspos op die Indonesiese eiland Java tot stand gebring het, is die eerste vrag tee van China deur Java na Nederland verskeep. Dit het daarna onder die Nederlanders mode geraak om tee te drink en dié gebruik het gou na ander Europese lande versprei.

Omdat tee so ver uit die Ooste ingevoer moes word, was dit duur en daarom het dit 'n drankie vir die welgesteldes gebly.

Die Mazawattee-teemaatskappy, wat in 1887 deur die Denshamfamilie gestig is, was in die laat 19de eeu een van die belangrikste tee-maatskappye in Brittanje. Foto: Facebook/Davudova
Die Mazawattee-teemaatskappy, wat in 1887 deur die Denshamfamilie gestig is, was in die laat 19de eeu een van die belangrikste tee-maatskappye in Brittanje. Foto: Facebook/Davudova

Britte lig die pinkie

Tee het mettertyd ook in Brittanje onder die rykes gewild geraak. In die middel van die 1800's het amper al die tee wat in Brittanje gedrink is nog uit China gekom.

Ongeveer 'n halfeeu later het die teeverbruik verdriedubbel omdat Brittanje goedkoper tee uit Indië en Ceylon (vandag Sri Lanka) ingevoer het. Die drink van tee het so deel geword van die Britse lewenswyse.

Soorte tee

Daar is vier hoofteesoorte, naamlik swarttee, woelongtee, groentee en wittee. Al die tee word van die blare van die struik Camellia sinensis gemaak.

Swarttee

Dit word tradisioneel van die assamplant, 'n variëteit van die teeplant, gemaak.

Dit het groter blare as die sinensis-variëteit, waarvan die meeste ander soorte tee gemaak word. Swarttee is meer geoksideer as die ander teesoorte en het 'n sterker geur. Jy sal nou-nou uitvind wat "oksideer" beteken.

Groentee

Groentee word van Camellia sinensis-blare en -botsels gemaak wat nie dieselfde verwelkings- en oksideringsproses as die woelong- en swarttee ondergaan het nie. Die oksideringsproses is gewoonlik afwesig.

Wittee

Dié tee verwys na tee van jong Camellia sinensis-blare wat minimaal verwerk is. Dit behels dikwels net droging met geen verdere prosessering nie.

Woelongtee

In Chinees wulóng oftewel "swart draak", is halfgeoksideerde tee wat vervaardig word deur 'n proses wat behels dat die Camellia sinensis-blare onder die sterk son verlep en oksideer tot net voor dit opkrul en die blare draai.

Die plant

Die teeplant is 'n immergroen struik inheems aan Suidoos-Asië. "Sinensis" is Latyn vir "Chinees". Dit groei in tropiese en subtropiese gebiede. Die plant kan so groot soos 'n boom word, maar word gewoonlik tot onder 2 m gesnoei.

Die struik het 'n sterk penwortel en sy blomme is geelwit. Vars teeblare bevat sowat 4% kafeïen. Teeplukkers oes net die jong, liggroen blare (die uitloopsel en eerste twee of drie blare) vir teeverwerking. Dié plukkery word ná 'n week of twee herhaal.

'n Teeplantasie in die provinsie Fujian in China. Vir tee van goeie gehalte word net die boonste blare van volwasse plante gepluk. Dié botsels en blare word "uitloopsels" genoem. Nuwe uitloopsels kom elke sewe tot 15 dae in die groeiseisoen na vore.  Foto: Gallo Images/Getty Images
'n Teeplantasie in die provinsie Fujian in China. Vir tee van goeie gehalte word net die boonste blare van volwasse plante gepluk. Dié botsels en blare word "uitloopsels" genoem. Nuwe uitloopsels kom elke sewe tot 15 dae in die groeiseisoen na vore. Foto: Gallo Images/Getty Images

Verwerking

Nadat die nuwe teeblaartjies gepluk is (dit kan ook met masjiene geoes word), begin dit verlep en oksideer.

Oksidering is wanneer teeblare aan die lug blootgestel word om uit te droog en te verdonker om die smaak, geur en sterkte van verskillende teesoorte te bewerkstellig.

Jy het seker al gesien hoe avokado's of piesangs bruin word wanneer hulle aan die lug blootgestel word.

Teeblare gaan deur 'n soortgelyke proses ná die oes. Die verdonkeringsproses word in 'n vasgestelde fase stopgesit deur die blare te verhit. Ander stappe in die verwerking van tee kan vermenging, die verwydering van kafeïen en die byvoeging van geure behels.

'n Teeblaar in 'n plantasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
'n Teeblaar in 'n plantasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Suid-Afrika verbou ook swarttee, maar ons teeproduksie is baie klein in vergelyking met die bogenoemde lande.

In 2018 het Suid-Afrika net 1 460 t geproduseer.

Die vernaamste gebiede waar tee verbou word, is die Vhembe-streek in Limpopo, Nkandla in KwaZulu-Natal, Lusikisiki in die Oos-Kaap en die gebied tussen Mbombela en Barberton in Mpumalanga. Sekere soorte tee het toegevoegde geure soos roosblare, jasmyn of lemoen.

Hoewel die meeste mense warm tee drink, is ystee veral in Amerika gewild.

Daar is ook ander warm drankies wat van plante se blare, blomme of wortels gemaak word waarna ons ook as "tee" verwys, soos kamilletee, Suid-Amerika se maté en, natuurlik, Suid-Afrika se rooibostee.

Teesakkies is vroeg in die 20ste eeu in Amerika uitgevind. Voor dit moes jy jou teeblare eers deur 'n teesiffie gooi voor jy dit kon drink. Foto: Gallo Images/Getty Images
Teesakkies is vroeg in die 20ste eeu in Amerika uitgevind. Voor dit moes jy jou teeblare eers deur 'n teesiffie gooi voor jy dit kon drink. Foto: Gallo Images/Getty Images

Rooibostee

Die vroeë inwoners van die Kaap het tee van rooibos (Aspalathus linearis) begin maak omdat die swarttee uit die Ooste so duur was. Die rooibos, 'n soort fynbos, groei net in die Cederberg-omgewing in die Wes-Kaap.

Rooibos­tee kan as ’n warm drankie of as ystee geniet word. Foto: Gallo Images/Getty Images
Rooibos­tee kan as ’n warm drankie of as ystee geniet word. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die verbouing van rooibos as kommersiële landbougewas het eers in die 1930's begin. Vandag bied die verbouing van rooibos werk aan meer as 5 000 mense.

Sowat 14 000 t rooibos per jaar word in Suid-Afrika geoes. Meer as 6 000 ton daarvan word uitgevoer na lande soos Duitsland, Nederland, Japan, Amerika en Kanada.

Het jy geweet?

Die grootste teeprodusente ter wêreld is volgens die Verenigde Nasies se Voedsel-en- landbou-organisasie se jongste beskikbare syfers (2018):

  • China 2 625 138 t
  • Indië 1 344 827 t
  • Kenia 492 990 t
  • Sri Lanka 303 840 t
  • Viëtnam 270 000 t
  • Turkye 270 000 t

Foto's: Gallo Images/Getty Images, Facebook/Davudovate; TEKS: CUM LAUDE MEDIA; BRONNE: TEA.CO.UK, KIDS.BRITANNICA.COM, SAROOIBOS.CO.ZA, FAO.ORG, WIKIPEDIA.ORG, DALRRD.GOV.ZA

Hulp met skooltake

Jy kan al die vorige artikels van Huisgenoot in die Klaskamer koop en hier aflaai.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM