Neurodiversiteit in aanlyn klaskamer

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: ISTOCK
Foto: ISTOCK

Volgens huidige skattings het minstens 10% van Suid-Afrika se kinders neuropsigologiese uitdagings.

Neurodiverse kinders kan bykomende struikelblokke in die lewe ondervind met betrekking tot sosiale verhoudings, kommunikasie, taalvaardighede, buie, motoriese koördinasie, aandag, aktiwiteitsvlakke en slaap.

Neurodiversiteit verwys na 'n verskil of andersheid in breinfunksionering, wat veroorsaak dat die persoon die wêreld anders beleef en ook op 'n ander manier optree, kommunikeer of omgaan in die wêreld.

"Dit beïnvloed jou sosiale vaardighede, kommunikasie, aandagspan, gemoed, sensoriese integrasie, emosies," sê Tracy Fletcher, 'n kliniese sielkundige by die sentrum vir neurodiversiteit in Kaapstad.

Die Koa Academy, 'n aanlyn skool, sluit opleiding in neurodiversiteit vir sy onderwysers in en deel bewustheid van neurodiversiteit met ouers en leerlinge.

Baie neurodiverse kinders word wêreldwyd by die hoofstroom- opvoedingstelsel ingesluit. Neurodiversiteit is nie 'n gestremdheid nie, hoewel sommige kinders spesiale voorsiening in hul onderrigomgewing kan benodig.

Fletcher sê die jongste navorsing dui dat probleme met neurodiversiteit gesamentlik kan voorkom en oorvleuel, en nie so alleenstaande is as wat ons voorheen gedink het nie.

"Ander geestesgesondheidsprobleme kan saam met uitdagings van neurodiversiteit voorkom. Die ervaring van neurodiversiteit is dus baie uniek en veranderlik, en neurodiverse kinders kan verskillende soorte aanpassings benodig om suksesvol op skool te wees in sowel akademiese onderrig as sosiale ontwikkeling."

Die Koa Academy, 'n aanlyn skool, sluit opleiding in neurodiversiteit vir sy onderwysers in en deel bewustheid van neurodiversiteit met ouers en leerlinge.

Wanneer mense met outisme oorgestimuleer word, aktiveer dit 'n reaksie soortgelyk aan dié van 'n neurotipiese persoon wat in die natuur van aangesig tot aangesig kom met 'n honger leeu.

Jason Hutchison, die hoof van akademie en opleiding by Koa, sê hoewel Koa nie ingerig is as 'n aanlyn skool vir leerlinge wat met neurodiversiteit gediagnoseer word nie, erken hulle dit is onvermydelik dat neurodiverse kinders, ouers en onderwysers in die skoolgemeenskap verteenwoordig sal word.

"Dit is noodsaaklik om 'n skoolomgewing te hê wat gegrond is op begrip, erkenning en verdraagsaamheid, want hierdie faktore is die kern van sosiale en selfaanvaarding.

"Wanneer ons diegene rondom ons kan erken en verstaan, kan ons elkeen se potensiaal maksimaliseer. Die aanvaarding van neurodiversiteit is nie net vir neurodiverse mense nie. Neurotipiese mense speel 'n sleutelrol daarin om te help om 'n ekosisteem te vorm wat inklusief is en almal verwelkom," sê Hutchison.

Is aanlyn klaskamers beter as tradisionele onderrig vir neurodiverse kinders?

Hoewel verskeie studies toon dat neurodiverse kinders hul akademiese prestasie in 'n buigsamer aanlyn onderrigruimte kan verbeter, is dit nie noodwendig die oplossing vir elke kind en gesin nie.

"Wat van belang is, is hoe die kind se behoeftes en die skool bymekaar pas, hetsy aanlyn of tradisioneel. Kinders het verskillende behoeftes ten opsigte van regulering, struktuur, keuses, roetines, sensoriese stimulasie, verlaagde sensoriese stimulasie, portuur-interaksie, sport, en visuele onderrig," sê Fletcher. "Dit handel dus meer oor hoe 'n onderrigomgewing die kind se behoeftes aanspreek eerder as die formaat (aanlyn of in die klaskamer). Wat ek in my praktyk gevind het, is dat onderwysers magtige rolspelers kan wees wanneer dit kom by betekenisvolle insluiting. Dit help dus om onderwysers te hê wat neurodiversiteit kan herken en aanvaar. Baie kinders wat 'n hoofstroomskool oorweldigend vind, kan wel floreer in 'n aanlyn skool waar hulle uit hul eie, beheerde omgewing in kleiner klasse deelneem en geïndividualiseerde onderrig volg," sê sy.

"Aanlyn skole kan egter geleenthede vir die ontwikkeling van sosiale en emosionele bande beperk, en dit vereis ook meer oorsig en ondersteuning van ouers wat net nie prakties moontlik is vir alle gesinne nie.

"Ons moet dus in die rigting van beter begrip en aanvaarding van neurodiversiteit in alle onderrigruimtes werk," sê Fletcher.

'n Mens is neurodivers of jy is nie

"Dit is belangrik om te verstaan dat neurodiversiteit nie 'n keuse is nie; dit is nie 'n siekte nie en dit is nie aansteeklik nie. Neurodiversiteit is 'n fisieke verskil in die struktuur van die brein en die chemie wat daarby betrokke is. Diegene met outisme het byvoorbeeld 'n aktiewer amigdala - 'n 'n gebied in die brein wat betrokke is by stres.

Wanneer mense met outisme oorgestimuleer word, aktiveer dit 'n reaksie soortgelyk aan dié van 'n neurotipiese persoon wat in die natuur van aangesig tot aangesig kom met 'n honger leeu.

"Die term ‘spektrum' kan ook misleidend wees, want neurotipiese mense kan dalk dink hulle is 'n ‘bietjie neurodivers'. Dit is nie so nie - 'n mens is neurodivers of jy is nie. Die karaktereienskappe, aard en neurotipe is egter uniek vir elke individu wat as neurodivers geklassifiseer is. Dit beteken die erns van die impak wat neurodiversiteit op elke persoon het, verskil, en vir sommige kan die impak intens en uitmergelend wees terwyl dit vir ander 'n superkrag of eienskap kan wees wat hulle interessant maak.

"Neurodiverse mense kan steeds presteer, spertye haal, deelneem aan situasies en besprekings in 'n klaskamer en op verskillende maniere positiewe, aktiewe lede van die gemeenskap wees. Neurodiversiteit moet nie gebruik word as 'n verskoning om nie suksesvol te wees nie. Dit sal 'n onreg wees vir sowel diegene wat as neurodivers erken word as die breër gemeenskap wat bevoordeel kan word deur die insluiting van neurodiverse mense se unieke perspektiewe," sê Fletcher.

SPELETJIES VANDAG

CTA