Die grootste matriekklas tot nog toe het die beste slaagsyfer tot nog toe behaal.
Meer as 920 000 leerlinge het in 2025 die Nasionale Seniorsertifikaat (NSS)-eksamen afgelê en 88% het geslaag.
In 2024 was die slaagsyfer 87,3%.
Daar is ook ’n nuwe topprovinsie: KwaZulu-Natal, waar 90,6% van die matrieks geslaag het. Daarmee is die Vrystaat (met 89,33%) ná vyf agtereenvolgende jaar onttroon.
Derde is Gauteng (89,06%), vierde Noordwes (88,49%) en vyfde die Wes-Kaap (88,2%). Dis die beste slaagsyfer wat die Wes-Kaap tot nog toe behaal het sedert die NSS ingestel is.
Mpumalanga (86,55%) is sewende, Limpopo (86,15%) agtste en die Oos-Kaap (84,17%) negende.
Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys, het die uitslae Maandagaand aangekondig.
Die algehele toppresteerder in openbare skole is Abigail Kok van die York High School in George in die Wes-Kaap.

Nog ’n Wes-Kapenaar, Takunda Praise Muchuweni van die Jan Kriel-skool, is die beste presteerder onder leerlinge met spesiale onderwysbehoeftes.
Kamogelo Tshabalala van die Acudeo College Kirkney in Gauteng is die toppresteerder in onafhanklike skole.

“Vir die heel eerste keer het al 75 distrikte ’n slaagsyfer van 80% en meer behaal,” sê ’n trotse Gwarube.
Die meeste matrieks tot nog toe, sowat 345 000, het met universiteitstoelating geslaag. Dis wel twee persentasiepunte minder as verlede jaar.
Nog 28% het toelating tot diplomastudie en 13,5% het toelating om vir hoër sertifikate te studeer.
“Dis hoekom gehalte saak maak,” sê Gwarube.
“Dit sê nie net aan ons hoeveel leerlinge het die eindstreep oorgesteek nie, maar ook hoe goed hulle voorberei is vir wat volgende kom.”
Die getal deeltydse kandidate het afgeneem. “Dié neiging maak saak, want dit dui op ’n meer stabiele stelsel.”
Die getal leerlinge met spesiale onderwysbehoeftes wat die eksamen afgelê het, het sedert verlede jaar met 57% toegeneem. “Die vordering is nie net in deelname nie, maar ook in prestasie. Aansienlik meer leerlinge met spesiale onderwysbehoeftes het geskryf en geslaag en universiteitstoelating in 2025 gekry.”

Sowat ’n derde van die leerlinge het wiskunde geskryf en die res wiskundige geletterdheid.
“Ons is bemoedig deur die toename in leerlinge wat vir wiskunde en die ander poortvakke soos rekeningkunde, fisiese wetenskappe en ander tegniese vakke inskryf. Tog wil ons hê die prestasie moet byhou by die inskrywing,” sê die minister.
Die slaagsyfer in wiskunde het afgeneem van 69% tot 64% en dié van rekeningkunde van 81% tot 78%. In fisiese wetenskappe het dit egter van 76% tot 77% toegeneem.
“Die volgende fase gaan oor dieper bemeestering, veral in die poortvakke. Dit gaan daaroor om die getal leerlinge te vermeerder wat wiskunde, fisiese wetenskappe en ander poortvakke neem én daarin uitblink – met steun sodat die geleentheid uitbrei sonder dat gehalte in duie stort,” sê Gwarube.
Volgens haar het die departement die regverdigheid en geloofwaardigheid van die eksamen beskerm.
Mathanzima Mweli, direkteur-generaal van basiese onderwys, het wel in ’n tegniese inligtingsessie oor die uitslae gesê: “Die uitlap van vraestelle was ’n groot slag vir ons harde werk.”
Sewe van die NSS-vraestelle is laat uitlek. ’n Taakspan het bevind 40 leerlinge van agt skole in Pretoria het daaruit voordeel getrek.
Mweli het sy teleurstelling uitgespreek in sommige toesighouers deur wie se nalatigheid leerlinge in staat gestel is om as ’n groep bymekaar af te skryf en hul selfone by hulle te hê.
Gwarube sê die matriekklas van 2025 het in 2014 met 1,2 miljoen leerlinge begin. In 2023, toe hulle in gr. 10 was, was daar 4% minder. In 2025 was daar 778 000 voltyds ingeskrewe gr. 12-leerlinge.
“Retensie maak saak. As leerlinge die stelsel voor gr. 12 verlaat, dan lewer die stelsel nog nie gehalte op die skaal wat ons wil hê nie, ongeag hoe sterk die finale slaagsyfer is.
“Ons moet verseker dat druk op niemand uitgeoefen word deur die deure van geleentheid ter wille van beter syfers te sluit nie.”
Volgens Gwarube het hulle gesien leerlinge wat maatskaplike toelaes ontvang, vaar beter as dié wat dit nie kry nie. Dis problematies dat leerlinge wat 18 word, dit ophou kry juis wanneer hulle in dié belangrike skooljaar is.
“Ons sal in gesprek tree met die departement van maatskaplike ontwikkeling om meer volhoubare maniere te vind om te verseker dat ons gr. 12-leerlinge beskerm wat steeds aktief in die skool is om in staat te wees om die maatskaplike toelaes te kry sodat hul akademiese prestasie nie verswak nie.”
Gwarube sê matriek is nie ’n gebeurtenis nie, dis ’n reis wat meer as ’n dekade duur.
Haar departement het in 2025 daaraan gewerk om die stelsel van die grondslagfase af te verander. “In dié werk het ons inspirasie uit die kremetartboom geput. Die kremetartboom groei nie vinnig of haas hom opwaarts nie. Dit groei ondertoe, stoot sy wortels diep in moeilike grond en oorleef droogtes en storms. Eers later groei dit hoër en verskaf skuiling, voeding, verligting en stabiliteit vir geslagte. Geen boom groei hoog as sy wortels swak is nie en geen onderwysstelsel hervorm wanneer sy fondamente swak is nie.”



















