MySkool

‘Onderwys ’n roeping, nie net ’n beroep nie’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Llewellyn van der Ross sê hy is in sy element wanneer hy leerlinge onderrig. Foto: VERSKAF
Llewellyn van der Ross sê hy is in sy element wanneer hy leerlinge onderrig. Foto: VERSKAF

"Geletterdheid is die brug van ellende na hoop."

Met die aanhaling van Kofi Annan in sy agterkop pak Llewellyn van der Ross, 'n onder­wyser aan die Tuscany Glen Primary School, elke dag sy onderwysreis van die afgelope sewe jaar aan.

Van der Ross is onlangs by die Wes-Kaapse onderwysdepartement se provinsiale onderrigtoekenningsgeleentheid vir Wes-Kaapse onderwysers bekroon met die prys as beste onderwyser vir sy uitsonderlike bydraes tot Engels- en lewensoriëntering (LO)-onderwys.

"Dit is vir my 'n ongelooflike trotse oomblik want dit wys dat ek op een of ander manier 'n impak op leerlinge gemaak het asook in die onderwys self en ook op my kollegas.

Dit is ook 'n trotse oomblik as ek dink oor waar ek vandaan kom en hoekom ek 'n onderwyser wou word. Dit was om lewens te verander, 'n impak in leerlinge se lewens te maak en 'n voorvegter vir hulle te wees.

"Dit is ook 'n trotse oomblik as ek dink oor waar ek vandaan kom en hoekom ek 'n onderwyser wou word. Dit was om lewens te verander, 'n impak in leerlinge se lewens te maak en 'n voorvegter vir hulle te wees. Nooit in 'n miljoen jaar het ek gedink dat ek sou wen nie," sê Llewellyn.

Hy is oorspronklik van Wesbank en kom uit 'n HOP-gebied, gekenmerk deur lae inkomste en beduidende sosio-ekonomiese uitdagings. Sy ma, 'n fabriekswerker, het hom alleen grootgemaak en het onvermoeid gewerk om hom te ondersteun.

Volgens Llewellyn was hy eers onseker wat hy ná skool wou gaan doen en het ná sy matriekjaar 'n oorbruggingsjaar geneem en vir 'n jaar gewerk.

Dit was gedurende dié jaar wat hy besef het dat hy eintlik 'n onderwyser wou word.

"Al my hoërskoolonderwysers het 'n groot rol gespeel in my besluit om 'n onderwyser te word. Ek kan nie een van hulle uitsonder nie, want hulle elkeen het my geïnspireer op verskillende maniere en hulle was my grootste rasieleiers."

Hy het 'n BEd-graad, 'n honneursgraad in onderwys, en is tans besig met 'n meestersgraad aan die Universiteit Stellenbosch.

Sy toewyding om geletterdheid en begripvaardighede onder leerlinge te verbeter, het nie net akademiese standaarde verhoog nie, maar het ook die algehele onderwyservaring by die skool verbeter.

Volgens Llewellyn is geletterdheid die spelwisselaar in sy lewe.

"Dit gaan daaroor om in hulle te glo voordat hulle in hulself glo en die oorgang en die groei in daardie kind te sien. In my klas is daar nie iets soos verkeerde antwoorde nie. Maar as die antwoord ‘verkeerd' is, werk ons saam om by die regte antwoord uit te kom.

"Dit help ook die leerling om vertroue te bou om hul hand te kan opsteek, al gee hulle die verkeerde antwoord."

Albert Einstein het gesê almal is genieë. Maar as jy 'n vis beoordeel op grond van sy vermoë om 'n boom te klim, sal hy sy hele lewe glo dat hy dom is.

"Nie almal van ons kan wiskundiges of taalkundiges wees nie. Dit gaan daaroor om in daardie aspek waarmee hierdie kind goed is, daarop te fokus sodat hy of sy die beste kan wees wat hulle moontlik kan wees en 'n betekenisvolle bydrae tot die samelewing en tot die wêreld as geheel kan lewer."

Deur sy inisiatiewe wat fokus op die onderrig van lees met begrip, het Llewellyn die akademiese standaarde by die Tuscany Glen Primary School verhoog. Sy benadering het 'n transformerende impak gehad op die skool se resultate in die provinsie.

Voorheen is die skool as onderpresterend beskou en het nou uitsonderlike resultate behaal onder sy leiding.

Sy toewyding om geletterdheid en begripvaardighede onder leerlinge te verbeter, het nie net akademiese standaarde verhoog nie, maar het ook die algehele onderwyservaring by die skool verbeter.

Hy gebruik innoverende onderrigpraktyke binne sy klas­kamer, voeg Llewellyn by.

"Jy sal leerlinge kry wat vlot kan lees, maar hulle weet nie eintlik wat hulle lees nie. Sodra jy hulle toets op wat hulle so pas gelees het, kan die leerlinge nie op 'n omvattende manier reageer nie.

"So, ek het innoverende onderrigpraktyke in my klaskamer ingesluit om te help met lees met begrip. Dit is eenvoudige strategieë soos om hulle in groepe te deel waar hulle voorspellings maak oor die teks, vrae vra asook visualiseer oor die teks. Dit dwing hulle om te dink oor die teks en dat hulle aktief betrokke raak by die teks."

Die onderwys is beslis 'n roeping. Dit is nie net 'n werk of beroep nie. Jy kan dit beslis nie doen as jy daaraan dink as net 'n werk nie.

Llewellyn sê onderwys maak hom opgewonde.

"Ek is elke dag opgewonde om skool toe te gaan. Ek is mal oor die onderwys, met sy uitdagings en al. Ek hou ook van al die drukkies en geskenkies wat ek by die leerlinge ontvang. Wanneer ek in my klaskamer is, is ek in my element."

Llewyllyn se advies aan diegene wat die onderwys betree, is dat jy 'n passie vir die onderwys moet hê.

"Die onderwys is beslis 'n roeping. Dit is nie net 'n werk of beroep nie. Jy kan dit beslis nie doen as jy daaraan dink as net 'n werk nie.

"Jy moet 100% seker wees dat dit is wat ek wil doen, want jy speel 'n kritieke rol in die lewens van leerlinge wat vir die samelewing gevorm word.

"Dit laat my dink aan 'n aanhaling deur 'n onbekende persoon wat gesê het dat wanneer 'n mediese dokter 'n fout maak en iets loop verkeerd, dan gaan die persoon op die operasietafel dood. Maar as 'n onderwyser 'n fout maak, gaan daardie fout die samelewing in.

"So wanneer 'n onderwyser 'n fout maak, gaan dit die samelewing in. Enigiemand wat dus die beroep wil betree moet 100% seker wees dit is wat hulle wil doen."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM