Die werk van vanjaar se deelnemers aan die ope en opstel-afdelings van Beeld se Kreatiewe Skryfkompetisie was van hoogstaande gehalte.
"Toe ek die kreatiewe skryfwerk van die deelnemers lees, is ek met vreugde en dankbaarheid vervul oor die pragtige talent en vaardigheid wat die leerlinge met hul skryfwerk openbaar," sê Augusta Jordaan, een van die beoordelaars.
"Daarby moet die Afrikaansonderwysers se leiding aan leerlinge en hul harde werk groot lof toegeswaai word," voeg Jordaan by.
"Die punte was baie na aan mekaar. Dit was eintlik moeilik om wenners te bepaal omdat die werk so puik was," sê Elize Engelbrecht, hoof van Beeld in Onderwys.
Maar al was die mededinging straf, het drie leerlinge koning gekraai uit al die inskrywings van oor die land heen in die drie kategorieë van die ope- en die opstelafdeling.

"Skryf is vir my 'n manier om iets oor te dra aan die wêreld en 'n storie te vertel wat mense miskyk om dan 'n dieper boodskap oor te dra," sê Marichelle Spies, 'n gr. 11-leerling aan die Hoërskool Witteberg in Bethlehem in die Vrystaat en die wenner in die kategorie vir Afrikaans huistaal (hoërskole).
"Dit is 'n manier om te ontsnap van alles om jou en net jou diepste gevoelens uit te beeld," sê Marichelle.
Janet Fouché, nog 'n beoordelaar, bestempel die kategorie waarin Marichelle gewen het, as 'n "leesfees".
"Die standaard was na my mening selfs hoër as verlede jaar s'n, en dít wil gedoen wees," sê Fouché.

Daleney Grobbelaar, 'n gr. 7- leerling aan die Laerskool Standerton in Mpumalanga, sê sy is altyd opgewonde om skryfstukke aan te pak. Daleney is die wenner in die kategorie vir Afrikaans huistaal (laerskole).
Beeld het Daleney gevra hoekom sy besluit het om aan die Kreatiewe Skryfkompetisie deel te neem.
"Die Beeld-skryfkompetisie is landwyd en bied skole die geleentheid om hul beste skrywers in te skryf. Ek hou van uitdagings, want dit bring die beste uit my uit," is haar antwoord.
"Die laerskoolleerlinge het oulik geskryf," sê Salomie Barnard, een van die beoordelaars.
"Hulle het die skryfwerk goed beplan. Die vorm is volgens voorskrif. Die skryfstukke toon goeie chronologiese volgorde en leesteken-gebruik."
Imelda Burgers, nog 'n beoordelaar, voeg by dat die opstelle van die deelnemers in al die kategorieë "oorwegend samehangend, goed georganiseer en baie insiggewend" is en dat hul hantering van die onderwerpe van hul opstelle wissel van "goed tot uitsonderlik".
"Dit is opvallend hoe leerlinge beeldspraak, idiome en spreekwoorde sinvol kon aanwend. Beelde, bywoorde en byvoeglike naamwoorde is ook doeltreffend gebruik om idees te ondersteun," sê Burgers.

Die wenner in die kategorie vir Afrikaans eerste addisionele taal (hoërskole) is Chloé Adendorff, 'n gr. 11-leerling aan die Camps Bay High School in Kaapstad in die Wes-Kaap.
"Die stories is alles in my verbeelding en om te skryf help my om 'n nuwe werklikheid te skep waar daar geen beperking is op hoe die storie kan vloei of self eindig nie," laat Chloé van haar hoor.
Chloé sê sy het deelgeneem aan die kompetisie omdat sy haar "eie potensiaal wou toets" en haarself uitdaag om "op nuwe maniere uiting te gee aan die stories in my kop".
Fouché glo die toekoms is blink vir die jong kreatiewe skrywers wat aan die kompetisie deelneem.
"Hier is beslis 'n paar skrywers en joernaliste wat dalk nie dié keer as wenners aangewys is nie, maar wat in die toekoms vir ons verhale en draaiboeke gaan skep waarvoor ons sal betaal," sê Fouché.
"Ek sien beslis uit na die debute van die toekomstige misdaadfiksie-, romanse- en fiksieskrywers."
- Vir die volledige uitslae van die kompetisie, besoek beeldskool.co.za of soek Beeld in Onderwys op Facebook.
So skryf die wenners
Hier is uittreksels uit die drie wen-opstelle:
Marichelle Spies
"Dit was 'n donker aand. My voete het gebrand, stukkend en vol klein blasies van ure se oorlog. Die swart roet wat alles om my verteer het, het stukkie vir stukkie my siel weggekerf. Die groot, oop plaaswerf wat gewoonlik gedruis het met die roesemoes van plaaswerkers, was daardie aand koud en donker - 'n verlate begraafplaas.
"Dit was nog altyd die hardste deel, die deel wat enige plaaskind haat. Dit wat jy net wil om- en wegwens! Die winter. Die voorbrande. Die vuur!"
Daleney Grobbelaar
"Elke blokkie is uniek en verteenwoordig skakerings uit my kinderjare.
"Die wind huil om die hoek, my sig word 'n akwarium en die geur van warm soutwater rol oor my lippe. Alhoewel die rafels van Ouma se lappieskombers met die jare verweer, sal my herinneringe aan haar nooit uitrafel nie?.?.
Chloé Adendorff
"Missy se hart het vinniger geklop. Lucas se woorde het in die koue naglug gehang, swaar van jare se onuitgesproke gevoelens. Die stilte tussen hulle het alles gesê wat nie uitgespreek is nie, en sy het nie geweet hoe om te reageer nie. Maar voordat sy kon, het hul vriende hulle terug in die kroeg ingeroep, die stemme kliphard teen die stilte in, en die oomblik was verby. Maar iets het in haar binneste bly knaag."
text"Dit was 'n donker aand. My voete het gebrand, stukkend en vol klein blasies van ure se oorlog. Die swart roet wat alles om my verteer het, het stukkie vir stukkie my siel weggekerf. Die groot, oop plaaswerf wat gewoonlik gedruis het met die roesemoes van plaaswerkers, was daardie aand koud en donker - 'n verlate begraafplaas."Dit was nog altyd die hardste deel, die deel wat enige plaaskind haat. Dit wat jy net wil om- en wegwens! Die winter. Die voorbrande. Die vuur!" text[reporter][reporter2]@[twitter]"Missy se hart het vinniger geklop. Lucas se woorde het in die koue naglug gehang, swaar van jare se onuitgesproke gevoelens. Die stilte tussen hulle het alles gesê wat nie uitgespreek is nie, en sy het nie geweet hoe om te reageer nie. Maar voordat sy kon, het hul vriende hulle terug in die kroeg ingeroep, die stemme kliphard teen die stilte in, en die oomblik was verby. Maar iets het in haar binneste bly knaag."text[reporter][reporter2]@[twitter]"Elke blokkie is uniek en verteenwoordig skakerings uit my kinderjare."Die wind huil om die hoek, my sig word 'n akwarium en die geur van warm soutwater rol oor my lippe. Alhoewel die rafels van Ouma se lappieskombers met die jare verweer, sal my herinneringe aan haar nooit uitrafel nie?.?.?." extraHier is uittreksels uit die drie wen-opstelle:














