MySkool

Rustenburgse juffrou leer gr. 2’s oor 43 jaar in selfde klas

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Annatjie Jacobs (64) sal op 29 Februarie, ná 43 jaar as gr. 2-juffrou by die Laerskool David Brink in Rustenburg, aftree. Foto: Verskaf
Annatjie Jacobs (64) sal op 29 Februarie, ná 43 jaar as gr. 2-juffrou by die Laerskool David Brink in Rustenburg, aftree. Foto: Verskaf

Ná 43 jaar sal klaskamer 43 by die Laerskool David Brink in Rustenburg aan die einde van Februarie nie meer juffrou Annatjie Jacobs se klas wees nie.

Jacobs het in 1981 as 'n 21-jarige onderwyseres die eerste keer 'n groep gr. 2-leerlinge op die skoolbanke in dié klas gesien en het sedertdien gehelp met die vorming van meer as 'n duisend gr. 2-leerlinge wat ná hulle gevolg het.

Jacobs, wat vandeesmaand 65 word, sal op 29 Februarie vanjaar vir die laaste keer klas 43 se deur sluit en die sleutels oorhandig.

As sy nou terugkyk na die vier dekades waaroor haar loopbaan gestrek het, is dit vir haar moeilik om 'n spesifieke hoogtepunt uit te sonder.

"Dit was altyd net my doel om elke kind tot sy of haar volle potensiaal te ontwikkel.

"Vir my speel godsdiens 'n belangrike rol en daarom was my uitgangspunt om altyd vir die kinders te sê dat jy met enige probleem na die Here toe kan gaan. Hy is daar vir jou, dag of nag, Hy slaap nie," sê sy.

Jacobs is die afgelope 23 jaar die departementshoof van die grondslagfase, en vir haar was dit baie lekker om die pad saam met haar kollegas te stap.

"Dis nie ek wat voorloop nie, ons werk saam . . . ons volg mekaar en vul mekaar aan."

Klaskamer 43 by die Laerskool David Brink in Rustenburg was 43 jaar lank Annatjie Jacobs se klaskamer. Foto: Verskaf
Klaskamer 43 by die Laerskool David Brink in Rustenburg was 43 jaar lank Annatjie Jacobs se klaskamer. Foto: Verskaf

Jacobs, wat ook 'n geakkrediteerde assessor en mentor is, sê sy het gedurende haar loopbaan "altyd probeer help waar ek kan".

Haar passie vir die onderwys het haar ook toegelaat om haar liefde vir sport op die atletiek- en netbalbaan uit te leef. Hier het sy goeie hoogspring-atlete en verskeie provinsiale netbalspelers opgelewer.

Jacobs sê sy was ook in haar "jonger dae" 'n nasionale afrigter, skeidsregter en spanbestuurder.

Sy erken egter dat sy nou met 'n swaar hart haar klaskamer ná soveel jare gaan verlaat en sê dat haar aftrede "soos 'n berg" voor haar lê.

Annatjie Jacobs saam met haar gr. 2-klas van 2001. Foto: Verskaf
Annatjie Jacobs saam met haar gr. 2-klas van 2001. Foto: Verskaf

"Almal vra my: ‘Nou wat gaan jy doen?', en ek weet nog nie," sê sy.

Sy dra egter die boodskap in haar hart wat sy al die jare ook aan haar leerlinge oorgedra het - dat die Here haar sal lei en die regte rigting sal wys.

Vir nou beplan sy om vir die eerste twee maande van haar aftrede bietjie by haar suster in die Kaap te gaan kuier.

Annatjie Jacobs saam met die Laerskool David Brink se o. 13 A-netbalspan wat in 2000 ligawenners was.Foto: Verskaf
Annatjie Jacobs saam met die Laerskool David Brink se o. 13 A-netbalspan wat in 2000 ligawenners was.Foto: Verskaf
Inge du Plessis

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM