Dit is nie kinderspeletjies om wiskunde te verstaan én hoë punte daarin te behaal nie. Dit is egter net so moeilik om dit vir leerlinge aan te bied.
Jaarliks vaar skole in die Wes-Kaap baie goed in Die Burger se wiskundeplakkaat en twee skole wat oor die jare heen uitstaan, is die Proteahoogte Akademie en die Langenhoven Gimnasium.
Die Proteahoogte Akademie in Brackenfell het die negende plek in die top-20-skole met die beste gemiddelde prestasie in wiskunde beklee, maar was vyfde op die lys van topskole waar die gemeenskap se welvaart van toepassing is. Die Langenhoven Gimnasium in Oudtshoorn was 18de op die lys van die top-20-skole en sewende op die lys waar die welvaart in ag geneem is.
Hoogtes so bereik
Hester Nel, die Proteahoogte Akademie se wiskundeonderwyser vir gr. 10-12, sê sy sien veral probleme in hierdie vakgebied as dit kom by die begrip van die werk.
"Leerlinge oefen roetineprosedures in sonder om te verstaan waarom die prosedure hulle by 'n antwoord bring. Hulle oefen nie basiese vaardighede in nie en besef nie wiskunde moet soos enige vaardigheid bemeester én ingeoefen word nie," sê sy.
Nel glo dat daar 'n fyn balans geskep moet word wat 'n leerling uitdaag om te dink, maar steeds laat veilig voel.
"Slegs dan kan doeltreffende leer in wiskunde plaasvind.
"Ek glo daaraan om leerlinge te lei om beginsels te verstaan, maar sodra beginsels begryp word, moet dié beginsels en vaardighede ingeoefen word," sê sy.
'n Paar wenke vir die opvoeders
Hester Nel se raad aan ander wiskunde-onderwysers is om die leerlinge te leer ken, want jy kan hulle net help as jy hul sterk- en swakpunte ken.
"Ken jou vakgebied. Einstein het gesê dat jy slegs iets werklik verstaan as jy dit vir 'n gr. 1-leerling kan verduidelik. Breek jou onderwerpe op en bestudeer dit totdat jy elke deeltjie daarvan so verstaan dat jy dit op die eenvoudigste manier vir leerlinge kan verduidelik," sê sy.
Haar laaste wenk is om nie dissipline by die deur uit te gooi om gewild te wees nie: "Leerlinge het 'n onderwyser nodig wat hulle sukses kan laat behaal en hulle gedissiplineerd kan laat werk - nie nog 'n maat nie."
Volgens Santi Botha moet onderwysers 'n voorbeeld vir leerlinge wees en hard werk.
"Laat leerlinge wiskunde in praktyk sien en beleef. Vertrou in die leerlinge se vermoë.
"Jy moet self 'n voorbeeld stel van harde werk, toevertrouing, vasberadenheid en deursettingsvermoë as
jy dit van jou leerlinge verwag," deel sy.
Sy volg 'n sterk tutorbenadering in haar klas en volg 'n beleid dat elke voorbeeld wat sy op die bord doen, die leerlinge in hul boeke moet doen terwyl sy tussen hulle rondbeweeg en hulle help.
"Hierdie beleid leer hulle om selfstandig te werk en ek wat rondbeweeg, help om klein miskonsepsies uit die weg te ruim."
Alles gaan egter nie net oor leer nie, want Nel probeer boonop om die klaskamer 'n lekker plek te maak - 'n plek waar die leerlingeveilig en gemaklik kan voel.
"Ek probeer om minstens een keer per roostersiklus 'n Kahoot!- speletjie in te sluit en dan ding hulle gewoonlik mee om 'n R2-lekker van die snoepie. Ek hou ook een maal in die siklus 'n blitsvasvra.
"Ek fokus meer daarop om die wiskundeklaskamer 'n veilige plek van leer te maak, waar leerlinge mag foute maak. Want ons leer die meeste uit ons eie ondervinding en foute," sê sy.
Nel se wenke aan haar leerlinge is dat hulle nooit moet opgee nie en altyd in hulself moet bly glo.
"Enigiets is moontlik as jy aanhou probeer, aanhou vrae vra en gedissiplineerd vaardighede inoefen," sê sy.
Harde werk dra vrugte
Die Langenhoven Gimnasium se wiskundeonderwyser Santi Botha probeer ook om 'n gemaklike atmosfeer in die klaskamer te skep sodat elke kind kan voel hulle hoort daar.
"Ek maak tyd om oor daaglikse uitdagings buite die klas te praat. Ek maak ook gebruik van praktiese voorbeelde waar wiskunde gesien kan word.
"Verder probeer ek die klaskamer in so 'n mate omskep dat dit 'n "wiskunde"-atmosfeer het deur middel van plakkate en projekte (modelle). Dit is belangrik om 'n ruimte te skep waar die leerlinge in hulself glo," sê sy.
Haar benadering om wiskunde aan te bied is onder meer dat sy elke periode werk en huiswerk gee sodat die leerlinge voldoende kan leer en oefen.
"Ek gebruik ook ander voorbeelde as net dié wat in hul handboeke is. Dit is belangrik om die tyd tot jou beskikking te gebruik om wiskunde te leer," sê Botha.
As dit kom by probleme in die klaskamer, sien sy dat die leerlinge sukkel om probleemoplossing deur middel van analisering en interpretasie te doen. Ander aspekte van wiskunde waarmee leerlinge sukkel, is getalbegrip, redeneringsvermoë en abstrakte denke.
As jy vir Botha vra hoe leerlinge sukses met wiskunde kan behaal, sê sy dit is belangrik om elke dag aan die vak te werk.
"Doen jou huiswerk en sommer nóg vyf somme. Verstaan wiskundige konsepte en die toepassing daarvan. Jy moet bereid wees om selfdissipline toe te pas.
"Die "ABC" in wiskunde is ‘Apply bottom to chair'.
"Wiskunde is soos 'n sport - hoe meer jy oefen, hoe beter word jy. Dit is ook soos 'n taal en jy moet leer om dit te lees en praat.
"Laastens is wiskunde soos 'n verhoogstuk, want jy moet aanhou speel al kan jy nie die skare sien nie.Sukses het bitter wortels maar lewer soet vrugte," sê sy.
- Wees op die uitkyk vir Die Burger se 2024 wiskundeplakkaat wat vandeesmaand in die koerant sal verskyn.



















