Ons gebruik taal om intieme verhoudings te vorm en ons 'n gevoel van sekuriteit en geborgenheid te gee. En met die taal wat ons gebruik, skep ons dus vir ons kinders 'n wêreld van geborgenheid - of soms die teenoorgestelde.
Taal kan nie los staan van die optrede wat daarmee gepaardgaan nie. Hoe sê jy vir jou kind jy het haar lief? Ja, jy spreek die woorde uit: "My kind, ek het jou so lief!"
Maar dis nie al nie. Jy sê dit ook deur haar vas te hou, 'n slaaptydstorie te lees, haar te versorg wanneer sy siek is, haar gesonde kos te gee, te werk sodat sy sorgeloos kan grootword, haar te ondersteun, te help met skoolwerk en raad te gee oor maatjies ...
Die woorde "ek is lief vir jou" maak dus deel uit van 'n horde versorgingsoptredes wat jou kind met liefde verbind en waarmee sy kan identifiseer. As jy vir jou kind sê jy het haar lief, maar jy kraak haar af, gaan sy nie een word van "ek is lief vir jou" verstaan nie.
Ongelukkig kan ons ook met taal vir ons kinders 'n negatiewe wêreld skep. Kinders wat in ouerhuise grootgeword het waar verbale mishandeling aan die orde van die dag was, gaan waarskynlik eendag verbale afknouing as 'n kommunikasievorm in hulle eie huis beskou - hulle dink dis hoe dinge veronderstel is om te werk.
Dit het so deel van hul identiteit en wêreld geword dat hulle nie daarsonder kan funksioneer nie.MA EN BABA SE TAAL Elke mens heg verskillende waardes aan dinge wat gesê word en verstaan dit soms verskillend.
Dit is waarom ons mekaar soms verkeerd verstaan. Dit is hoekom ons nie van 'n tweejarige dieselfde kan verwag as van 'n sesjarige wanneer ons 'n opdrag in die huis gee of iets probeer verduidelik nie. Jou tweejarige se kennis van dit wat ons met taal wil verduidelik is nog beperk en sy ken sekere woorde nog nie. Daarom moet ons soms dieselfde ding oor en oor sê voor sy dit verstaan.
Dis maklik om te dink jou kind is stout of ongehoorsaam as jy oor en oor 'n opdrag moet herhaal, maar eintlik is dit 'n kommunikasiegaping omdat haar wêreld nog nie so ontwikkel soos joune is nie. Kinders moet binne 'n baie kort rukkie 'n enorme hoeveelheid kennis en taalkundigheid opdoen. Hulle het herhaling en tyd nodig om alles te orden voor hulle dit ten volle kan verstaan en gebruik.
Ouers is geneig om trots te sê: "Ek praat net een keer!" Hulle verstaan nie dat herhaling nodig is om sekere boodskappe en begrippe te laat insink nie. Jy gaan nie jou kleintjie "straf" as sy nie die eerste keer "appel" uitroep wanneer jy na 'n appel wys nie. Jy gaan aanhou tot sy dit op 'n dag regkry.
En dan gaan jy haar opgewonde prys en sy gaan so goed voel dat sy "appel" sommer aanmekaar sê, sommer vir lemoene ook en dan gaan jy weer geduldig aan haar die proses herhaal om die verskil tussen lemoen en appel tuis te bring. Sy kan nog nie die onderskeid tussen appel en lemoen tref nie, want sy het gewoon nog nie genoeg kennis van verskillende vrugte nie.
Dis maklik om te dink jou kind is ongehoorsaam as jy oor en oor moet herhaal, maar dis eintlik 'n kommunikasiegaping omdat haar wêreld nog nie so ontwikkel soos joune is nie.
MOET, KAN & WIL
Ander baie gelaaide woorde is "moet", "kan" en "wil". Jy kan jou kind help om haar identiteit en 'n gesonde selfbeeld te ontwikkel deur baie versigtig met hierdie woorde om te gaan. As jy vir jou kind sê sy "moet" iets reg doen of regkry, gee jy 'n bevel. Jy verkry mag en sy verloor mag. As jy sê sy "kan" iets reg doen of regkry, gee jy haar mag en ontneem jou in 'n mate van jou eie mag.
As jou kind dit "wil" doen, het jy jou doel bereik. Kom ons kyk na 'n praktiese voorbeeld. As jy sê sy "moet" nou huiswerk doen, voer jy jou magsposisie tot die uiterste. Jou kind voel sy het geen keuse nie en doen dit dalk teësinnig en net om dit verby te kry.
Die woordjie "moet" kan haar heeltemal sonder mag laat voel. Jy kan ook sê jy "kan" nou jou huiswerk gaan doen, dan het jy later baie tyd om na jou gunsteling-TV-program te kyk.
Daardie woordjie gee haar meer mag om self te besluit. As jy verder gaan en die beginsel verduidelik dat dinge wat nie so lekker soos speel en ontspan is nie, tog deel van die lewe is en gedoen moet word, sal sy dalk later haar huiswerk wil doen omdat sy weet dat pret daarop volg.
En sy het self die keuse gemaak, met jou leiding. Hierdie taalstrategie gaan nie noodwendig die eerste keer of elke keer werk nie, maar dit gaan 'n indruk maak en jou kind nie magteloos laat voel nie. Herhaling en geduld bly maar die leuse.
As jy vir jou kind sê sy ‘moet' iets reg doen of regkry, gee jy 'n bevel. As jy sê sy ‘kan' iets reg doen of regkry, gee jy haar mag. As jou kind dit ‘wil' doen, het jy jou doel bereik.
WENK
Werk aan jou eie selfbeeld. Dis moeilik om aan jou kind se selfvertroue te bou as jy self 'n swak selfbeeld het.
Namate kinders groter word, begin ons hulle in kassies plaas. Weer eens word taal ingespan om dit reg te kry. Jy dink (en sê soms) jou dogtertjie is "agterlosig", "dromerig", "onoplettend", "vergeetagtig" en "deurmekaar".
Haar boetie is weer "georganiseerd", "pligsgetrou" en "netjies". Dié etikette dra by tot die vorming van hul identiteit. As jy iets gedoen wil hê, vra jy jou seun, want jy weet jou dogter gaan die helfte van die opdrag vergeet. So maak jy hom die een wat altyd dinge moet doen en hy verfyn dié eienskap.
Van haar verwag jy nie dieselfde nie en mettertyd is sy ook nie in staat om dit te doen nie. Iemand anders doen dit vinniger en beter en in die proses begin sy aan haar vermoë twyfel. Ons is so geneig om kinders in taalkategorieë te plaas: stout, soet, moeilik, probleemkind - en kort voor lank glo die kind en die ouer dat sy in daardie kategorie hoort, en word die taalbeskrywing haar identiteit.
Taal is nooit onskuldig, neutraal of objektief nie. Dit gaan altyd met die oordrag van waardes gepaard. Elke woord wat ons sê, spruit uit 'n rits onderliggende waardes. Elke keer as ek taal gebruik, roep ek hierdie waardes op.
Daarom kan iets wat heel onskuldig lyk, eintlik 'n manier wees waarop ek waarde toeken.
En daardie waarde kan negatief of positief wees. As ouer probeer jy jou kind leer hoe om in 'n samelewing te funksioneer. As jou kind iets doen wat jou waardestelsel en die samelewing se waardestelsel as "onaanvaarbaar" of "verkeerd" beskou, wys jy jou kinders daarop om hulle te leer. Maar watter woorde gebruik 'n mens om dit te doen? Jy kan sê: "Nee man, 'n mens maak gewoon nie so nie!"
Die betekenis waarmee daardie sinnetjie gelaai is, is: "Jy is nie 'n mens nie, want jy het dan nou net so gemaak!" So bevraagteken jy jou kind se menswaardigheid. En ja, nes ons kinders nie altyd die kennis het om die regte dinge te sê en doen nie, gaan ons dit ook nie altyd regkry nie. Dis iets wat ons moet inoefen en oor en oor moet probeer voor ons dit bemeester - solank ons net daarvan bewus bly dat ons taalgebruik die mag het om ons kinders se identiteit tot hul voordeel te vorm, maar ook tot hul nadeel.
Jou reaksie en jou kind se reaksie as sy dit regkry om "appel" te sê (sien op die vorige bladsy) gaan nie net oor die opdoen van kennis nie. Dit bemagtig haar. Sy weet dalk nie aanvanklik wat die woord beteken nie, maar jou reaksie is so positief dat sy positief reageer. Sy wil weer dieselfde positiewe reaksie uitlok en daarom sê sy weer "appel".
Sê nou jy het nie gereageer toe sy die woord die eerste keer reggekry het nie - dan het dit haar dalk veel langer gekos om die woord en die voorwerp by mekaar uit te bring. En sê nou jy het negatief gereageer (goed, dis net 'n "sê nou", want geen ma sal ooit haar neus vir soveel oulikheid optrek nie!) dan het sy geskrik vir jou reaksie en met trane of stomheid gereageer.
Dis hoekom dit so belangrik is dat jy deur jou kinders se lewe hierdie positiewe manier van kommunikasie en motivering volhou. Jy sê aan jou driejarige: "Ruim die blokkies op."
As hy dit nie dadelik doen nie, raak jy dalk ongeduldig en raas met hom: "Ek-praat-nie-weer-nie-doen-wat-ek-sê-het-jy-nie-ore-nie?"
En met dié gebruik van taal verpletter jy jou kind se ontwikkelende wêreld en sy groeiende identiteit. Jy begin vorm aan 'n wêreld waarin jou kinders dink hulle misluk, maak foute, is in die moeilikheid en stel mamma of pappa teleur. Kyk byvoorbeeld na 'n begrip soos tyd. Jy weet dis 'n woord wat geskep is om orde aan ons bestaan te gee.
Maar jou kinders verstaan dit nog nie. Dis hoekom Hanna op pad na die vakansiebestemming elke vyf minute vra: "Is ons amper daar?"
As jy antwoord "nee, dis nog ver", gaan dit min vir haar beteken - dis 'n onverstaanbare of relatiewe begrip.
Maar as jy woorde uit haar werklikheid gebruik - "dit gaan nog so lank wees soos wat dit neem by die speelgroepie tot juffrou vir julle koeldrank en broodjies gee" - gaan sy verstaan en waarskynlik ophou neul. Nog 'n voorbeeld: Mamma weet dit is nou badtyd en haar seuntjie speel met blokkies. Natuurlik gaan hy 'n keel opsit as die horlosie sesuur slaan en ma se roetineplan inskop. Sy kom in en sê hy moet nou kom bad.
Dit maak glad nie vir hom sin om nou te gaan bad nie. Hy is dan in die middel van sy speletjie. Hy sit 'n keel op en drama is die gevolg. Ná 'n traumatiese badsessie wonder mamma hoekom haar seuntjie so moeilik is en nie wil luister wanneer sy praat nie. 'n Beter oplossing is om jou seuntjie in te lig wat gaan gebeur.
Gee hom kennis deur verduidelikende taalgebruik. Gaan halfses al na hom toe en sê: "Johan, jy kan nou begin klaar speel, want onthou jy moet nog bad voor ons eet. Jy het nog so 'n klein rukkie tyd om te speel. Bou nog 10 blokkies, dan begin jy die los blokkies in die boksie gooi. Dan bêre ons jou toring tot dit weer lig word en jy van die speelgroepie af kom en verder kan bou."
Dan loop jy en kom vyf minute later terug met 'n herinnering. Die derde keer (sesuur) kom jy in en herhaal die storie van vroeër, maar dié keer sê jy dis nou badtyd.
Hierdie tegniek gaan baie suksesvoller wees as wanneer jou en sy wêreld lynreg met mekaar bots. Jou kind moet tyd en beplanning leer - en as jy dit vir hom in sy wêreld verduidelik, sal hy dit makliker leer. Hierdie metode verg meer geduld en tyd, maar onthou die voorbeeld van die appel! Om kinders te leer is nie 'n kitsgebeurtenis nie.









