Terug skool toe is 'n opwindende tyd, want 'n jaar van nuwe avonture lê vir jou kinders voor. Dit kan egter vir ouers finansieel 'n stresvolle tyd wees om ná die feestyd en vakansie te voldoen aan al die vereistes wat skole stel.
Volgens Statistieke Suid-Afrika het die prys van kos in Suid-Afrika in September 2023 met 8,1% gestyg in vergelyking met dieselfde maand die vorige jaar. Die pryse van skoolbenodigdhede is geen uitsondering nie.
LEES OOK | Skoolgeld styg meer as inflasie: Spaar só vir jou kind se opvoeding

Wat sê die ouers?
Czarine Bosman, 'n ma van drie van Caledon, sê sy weet werklik nie hoe ouers wat klein salarisse verdien dit bybring nie.
"Skoolklere is werklik buitensporig duur, maar die klerebank is vir my van groot hulp. Ek gaan koop my kind se skoolrokkies by die klerebank teen 'n minimale bedrag en gee dan ook klere wat te klein is by die klerebank in," sê sy.
Wat skryfbehoeftes betref, maak sy 'n lys van alles wat gekoop moet word, met kolomme langsaan. "Ek blaai dan al die groot kettingwinkels se spesiale aanbiedinge deur en kyk waar ek wat die goedkoopste kan kry. Ek kon die meeste op Caledon kry teen pryse wat goed vergelyk met winkels wat ons nie hier het nie."
Marlise Geyer, 'n ma van Pretoria, vind dit belaglik dat skole vereis dat 'n mens 'n hele jaar se skryfbehoeftes op een slag moet koop. "Ek raak ook warm onder die kraag as die skool handelsname vir skryfbehoeftes spesifiseer wat duurder is as 'n ander handelsnaam en dieselfde funksie verrig."
Geyer stuur nie 'n hele jaar se skryfbehoeftes op een slag skool toe nie, maar koop soos wat haar kind dit nodig kry. "Ek voel ouers moet die verantwoordelikheid neem om toe te sien dat hul kinders alles het wat hulle benodig. Al koop 'n mens alles volgens die skool se lys, kort daar in elk geval nog goed deur die jaar. My kind weet hy moet vir my sê as sy gom op is of sy liniaal gebreek het. Dan gee ek dit vir hom soos nodig."
Sy vertel verder dat items soos verfkwaste en pastelle verlede jaar op die skool se lys was wat nooit gebruik is nie. "Ek sal nie weer items aankoop voordat ek weet dat dit werklik gebruik gaan word nie."

Clivé Burger, van Jacobsdal, wie se seun in die Kaap skoolgaan, sê sy glo baie min mense kan werklik voor Desember geld wegsit vir wanneer die skool begin.
Sy vertel dat haar kind se skool spesifieke skooltasse vereis. "Die tasse is nie buitensporig duur nie, maar dit is nie 'n geval dat hy sy laerskooltas kan gebruik nie, so 'n nuwe een moet gekoop word," sê sy.
"Wat vir my baie duur is, is die rugbybroeke waarmee hulle oefen wat 'n spesifieke handelsnaam met die skool se logo moet hê. Een broek kos tussen R550 en R600 en hulle het meer as een nodig."
Die skool laat ook net pikswart rugbystewels toe. "As 'n mens dit nie in die hande kry nie, moet jy 'n plan maak om enige strepie, of wat ook al die geval mag wees, swart te verf."
En, soos dit by talle ander skole ook die geval is, is daar 'n magdom verskillende klere vir elke sport, sê sy. "Dis 'n atletiekfrokkie, 'n kriekethemp, 'n rugbyhemp, Woensdagdrag, uitstapdrag en hulle moet elke dag met kleurbaadjies skool toe gaan. Al hierdie klere stoot die koste geweldig op."
Volgens Burger kom haar jongste kind se skool die ouers egter tegemoet en kan hulle een hemp vir verskeie sportgeleenthede dra.
"Dit is verder ook bloot 'n besige tyd van die jaar met 'n Valentynsbal en sulke geleenthede waarvoor 'n meisie met blomme gevra moet word en op die aand 'n geskenkie moet kry. Dan moet jou kind hiervoor ook klere kry, in ons geval 'n pak klere."
Marlise du Plessis, 'n ma van Ruimsig in Johannesburg, sê ook dat sy al dikwels items soos waterverf en oliepastelle gekoop het wat aan die einde van die jaar ongebruik teruggestuur is.
"My kind het verlede jaar by 'n nuwe skool begin en sy het nog nie al die sportklere nie, want dit is net te veel op een slag. Die meisies het selfs spesiale rekkies vir hul hare en dan is daar ook koorklere, terwyl baie skole in hul skoolklere optree."
Erna von Gericke, 'n ma en onderwyseres van Prieska, sê haar oë het gerek toe sy haar kind se skoolgoed gaan koop. "Sy gaan nou in 'n nuwe fase in met vakke so ek moes ekstra lêers koop. Wanneer ek die naam op die lêer sit, sit ek nie die graad by nie, so sy kan dit nou 'n paar jaar gebruik."
Von Gericke vertel dat sy by sommige skole waar sy skoolgehou het uit haar eie sak vir kinders skryfbehoeftes gekoop het omdat die ouers dit eenvoudig nie kon bekostig nie.

Hoef jy alles op een slag te koop?
Susan Larkan, van Tabansi, 'n spesialis in skoolwetgewing, sê ouers is nie verplig om skryfbehoeftepakkette te koop van 'n verskaffer wat die skool identifiseer nie. "Ouers kan ook nie verplig word om 'n hele jaar se skryfbehoeftes op een slag te stuur nie," sê sy.
As ouers wel kan spaar deur groter hoeveelhede op een slag te koop, stel sy voor dat dit by die huis gehou word en aan die kind gegee word soos nodig.
Hoewel skrifte nodig is vir die kind om te werk, kan die skool ook nie ouers verplig om items soos toiletpapier en sneesdoekies te stuur nie, aangesien die skool vir higiëne verantwoordelik is, sê Larkan. "Hoewel dit die skool met uitgawes help as ouers wel in hierdie verband kan bydra, hoef dit nie alles op een slag te wees nie."
Sy beveel aan dat ouers die skool se klerebank gebruik en ook bydra deur klere wat te klein is aan die klerebank te skenk.
"Skoolklere moet van meer as een winkel beskikbaar wees en die skool mag nie monopoliseer nie. Die Mededingingskommissie het sy kommer geopper oor skole wat nie 'n tenderproses volg om skoolklere meer bekostigbaar te maak nie. As skole slegs een verskaffer gebruik, stel dit die verskaffer in staat om pryse op te stoot omdat daar geen mededinging is nie."
Sy beveel ook aan dat ouers uitvind of jong kinders werklik verplig word om kleurbaadjies te dra, aangesien dit gewoonlik die duurste item is.
Volgens Larkan het die Nasionale Vereniging van Skoolbeheerliggame 'n beroep op skole gedoen om skoolklere teen die bekostigbaarste pryse aan te koop.
Ouers moet dus vrae vra en nie hulself in die skuld dompel omdat hulle oningelig is oor wat werklik nodig is nie.

Hoe kan jy spaar?
Dr. Farai Nyika, 'n dosent in ekonomie by Mancosa, sê ouers wat nie kontant beskikbaar het nie, kan platforms soos Payflex en PayJustNow gebruik, wat rentevrye terugbetaling bied. Volgens Nyika moet 'n mens egter bewus wees van die volgende:
• Talle handelaars wat skoolitems aanhou, is nog nie vennote van hierdie platforms nie.
• Mense is dikwels nie bewus van die platforms nie en is ook nie vaardig om aanlyn aankope te doen by verskaffers wat wel vennote is nie.
• Terwyl sommige handelaars wat skoolitems verkoop wel vennote van die platform is, kan dit wees dat hulle nie die beste waarde bied nie en betaal 'n mens uiteindelik meer.
Hy gee die volgende wenke om te spaar:
1. Probeer om die naweek voordat die skole oopmaak vol inkopiesentrums vermy. Doen aankope aanlyn waar talle verskaffers spesiale aanbiedinge het en gratis aflewer as die aankope 'n sekere bedrag oorskry.
2. Koop klere en skryfbehoeftes by kleiner handelaars aangesien hul pryse dikwels meer mededingend is. Jy sal egter die tyd moet insit om pryse te vergelyk.
3. Maak gebruik van klerebanke en winkels wat tweedehandse klere verkoop. As jy handboeke moet aankoop, soek na tweedehandse boekhandelaars waar jy dit teen 'n laer prys kan bekom.
4. Wees bedag daarop om nie items te koop wat jou kind nie werklik nodig het nie. Koop wat jou kind nodig het en nie noodwendig wat hy of sy wil hê nie en maak seker jy weet wat jou kind nodig het om effektief te leer.
5. Wees bewus van handelaars wat hierdie tyd van die jaar pryse vir skoolitems opstoot terwyl ouers vir die jaar voorberei. Dit is ideaal om laat in die jaar die items vir die volgende jaar te koop, maar as jy dit nie gedoen het nie, koop die minimum wat nodig is om tot Maart deur te kom en maak dan gebruik van jaarlikse uitverkopings waar handelaars hul pryse weens die lae aanvraag met 20% tot 50% afbring.



















