Enige onderwyser wat wiskunde aanbied, sal vir jou sê dat harde werk die suksesresep is tot prestasie, maar 'n groep van dié onderwysers in die Suid-Kaap meen dat motivering en ondersteuning net so belangrik is.
Die Hoërskool Albertinia en die Hoër Landbouskool Oakdale op Riversdal is twee skole wat vanjaar uitgestaan het in Die Burger en Netwerk24 se wiskundeplakkaat. Nie omdat hulle die topskole was nie, maar omdat hulle ten spyte van die skole se welvaart, steeds presteer. Vanjaar was die Hoërskool Albertinia 81ste op die prestasielys, maar 19de op die welvaartlys en Oakdale was 11de op die prestasielys en 18de op die welvaartlys.
Buiten die top-20 skole wat op grond van prestasie bepaal word, het die plakkaat ook 'n lys van die top-20 skole as jy die prestasies met hul welvaart in ag neem. Hiervoor word die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) se welvaartindeks gebruik en skoolgeld in berekening gebring.
Albei skole se wiskundeonderwysers vertel vol ywer dat hulle verskeie metodes gebruik om nie net wiskunde vir die leerlinge te verduidelik nie, maar ook wat die belang van die vak in hul toekoms is.
Hoërskool Albertinia
Anneli Booyens is al sedert 2000 by die Hoërskool Albertinia waar sy wiskunde vir gr. 10 tot 12 gee en sê dat die belang van wiskunde 'n kardinale gesprekspunt in haar klas is, veral omdat haar klasse so klein is.
"Vanjaar het ek net ses matrieks wat wiskunde neem en dié getal neem altyd af van die aantal wat in gr. 10 daarvoor inskryf.
"Ek doen dus moeite om aan hulle te verduidelik dat wiskunde een van die vakke is wat jou in die toekoms kan help om 'n goeie werk te kry," sê sy.
As jy Booyens vra waarom sy dink kinders nie wiskunde onder die knie kan kry nie, meen sy dit is omdat hulle reeds in die laerskool met dié vak sukkel en van daar af gaan dit net agteruit omdat die fondasie van die werk en hoe om dit te leer nie altyd vasgelê word nie.
Ná 24 jaar by die skool, is Booyens steeds passievol oor wiskunde en haar leerlinge.
"Kinders besef nie jy móét werk om wiskunde te verstaan nie. Dit is 'n skryfvak en jy kan nie net daarna kyk en dit probeer leer nie - jy moet die tyd insit om dit te oefen," sê sy.
In haar klasse bestee sy tyd daaraan om die kinders te laat oefen en vraestelle uit te werk.
"My tyd in die klas saam met hulle is hopeloos te min, so hulle moet self ook oefen en die tyd insit om te leer."
Benewens vraestelle is daar ook elke Donderdag 'n uur lange ekstraklas by die skool waar Booyens wiskunde aanbied en leerlinge kan help met werk waarmee hulle sukkel. "Hierdie ekstraklasse is verpligtend en dit help hulle geweldig om ekstra tyd saam met my te spandeer sodat ons kan fokus en werk aan die onderwerpe waarmee hulle sukkel," sê sy.
Ná 24 jaar by die skool, is Booyens steeds passievol oor wiskunde en haar leerlinge. Sy vertel met trots hoe van haar vorige leerlinge ná skool gaan studeer het - in 'n wiskundige rigting nogal.
"Ek probeer hulle altyd inspireer en vertel dat wiskunde die pad tot sukses is. En as een van hulle dit volg, is dit bitter lekker," vertel sy.
Hoër Landbouskool Oakdale
Dit is meer as net oefen, herhaal en toepas in die Hoër Landbouskool Oakdale se wiskundeklasse. Loura Klinck, wat klas gee vir die gr. 10 tot 12-wiskundeleerlinge, vertel dat sy daarvan hou om vir haar klasse te verduidelik dat wiskunde in die alledaagse lewe toegepas kan word.
"Ek verduidelik aan hulle dat wiskunde gebruik kan word om vergelykings en oplossings in enige veld te vind. Deur wiskunde leer jy om te analiseer, planne te maak en oplossings te vind - vaardighede wat jy in enige werk of situasie gaan benodig," sê sy.
Hierdie skool het vier wiskundeonderwysers wat van gr. 8 tot 12 klas gee en met sowat 50% van die leerlinge wat wiskunde neem, word sommige grade se klasse verdeel in twee of meer.
"Saam vorm ons 'n gedugte span wat mekaar ondersteun. Ons gee die nodige aandag, leer vir hulle die prosesse, herhaal dit oor en oor en motiveer die leerlinge," sê sy.
Omdat wiskunde so abstrak is, is dit vir baie kinders moeilik om gemotiveerd te bly.
In die klaskamer het sy altyd slagspreuke om die kinders te motiveer en dit verander jaarliks.
"Vanjaar staan wiskunde vir: werk intensioneel sodat jy kunde kan kry. Dit is hoe ek vir hulle verduidelik wat wiskunde is.
"Omdat wiskunde so abstrak is, is dit vir baie kinders moeilik om gemotiveerd te bly. Hulle vind dit moeilik en slaan sommer net toe as hulle wiskunde hoor. Ek probeer dus om hul persepsies rondom wiskunde te verander en sê hulle moet met 'n plan werk én dat dit die oefen van die brein behels. Daarom verduidelik ek vir hulle waar en hoe hulle eendag wiskunde kan gebruik," vertel sy.
Klinck vertel dat hulle ook in gr. 8 'n wiskundekursus aanbied waar hulle terugkeer na algebra toe om dit by die leerlinge vas te lê.
"Ons maak gebruik van video's wat ons vir hulle wys en dan moet hulle vrae inoefen. Ons verdeel die kinders onder die onderwysers en ons werk dan met hulle sodat hulle gemaklik met algebra kan wees."
As dit kom by die leer van wiskunde, lê sy ook klem daarop dat leerlinge moet besef dat wiskunde geoefen moet word.
"Hulle moet besef dat jy nie die werk kan lees en dink jy gaan dit verstaan nie. Dit gaan oor konstante werk en oefen," sê sy.




















