Positiewe denke en goeie welstand bou nie net jou selfvertroue nie, maar dit kan 'n leerling ook beter laat vaar in vakke soos wiskunde.
En om 'n groei-denkwyse van 'n jong ouderdom af te kweek, kan leerlinge vinniger laat vorder en hulle help om sukses in alle aspekte van hul lewe te ervaar, meen Oxford University Press Suid-Afrika .
Wanneer die rol van welstand in kinders en studente se skoolprestasie oorweeg word, veral wat wiskunde betref, spruit swak welstand dikwels uit 'n gevoel van angstigheid en onttrekking.
" 'n Groei-denkwyse kan op verskillende maniere geïnterpreteer word. Die konsep self sluit verskeie persepsies van welstand in," sê dr. Michelle Sephton, Oxford University Press Suid Afrika se wiskunde-en-wetenskappe-uitgewer.
Die Oxford English Dictionary definieer welstand as die "toestand van gesondheid en geluk, en om voorspoed te geniet".
Wanneer die rol van welstand in kinders en studente se skoolprestasie oorweeg word, veral wat wiskunde betref, spruit swak welstand dikwels uit 'n gevoel van angstigheid en onttrekking.
'n Onlangse studie deur die Universiteit van Melbourne, "Feeling good and functioning well in mathematics education: Exploring students' conceptions of mathematical wellbeing and values", laat die kollig val op die behoefte aan 'n beter begrip van welstand en hoe dit op skoolvakke van toepassing is.
"Dit is geen geheim dat baie van ons leerlinge met wiskunde sukkel nie. Kan dit leerlinge help om beter te vaar indien ons - as onderwysers en ouers - ons benadering tot wiskunde verander?" vra Sephton.
Oor die wêreld heen dui studies wat deur Oxford University Press onderneem word daarop dat studente wat gelukkig en gesond is meer geneig is om hul studie suksesvol te voltooi.
Hul benadering is omvattend. Hulle kombineer opvoedkundige materiaal en die opleiding van onderwysers met gemeenskapsbetrokkenheid om 'n liefde vir wiskunde binne en buite die klaskamer aan te moedig.
"Wiskunde ontlok 'n sterk emosionele reaksie by baie mense. Dit sluit in gevoelens van ontoereikendheid, mislukking en selfs vrees," sê Sephton.
Jou denkwyse kan reeds op 'n baie jong ouderdom verander. Die manier waarop ouers by die huis oor die vak praat, kan geleenthede bied om met wiskundige konsepte buite die klaskamer te werk.
— Michelle Sephton
"Daar is verskeie aspekte van wiskundige welstand. Een is hoe ons oor wiskunde dink en praat. Dit geld nie net kinders nie, maar ook onderwysers en ouers.
"Jou denkwyse kan reeds op 'n baie jong ouderdom verander. Die manier waarop ouers by die huis oor die vak praat, kan geleenthede bied om met wiskundige konsepte buite die klaskamer te werk. Jy kan dit deel maak van jou en jou kind se werklikheid en die nut daarvan in die alledaagse lewe uitwys (iets waaroor leerlinge dikwels vrae vra).
"Terselfdertyd kan positiewe en bevestigende taalgebruik die manier beïnvloed waarop kinders wiskunde ervaar. Op hierdie manier kan ouers hul kinders se vermoë om in wiskunde te presteer, aanspoor."
Ondersteun jou kind se (wiskundige) groei-denkwyse
1. Maak wiskunde deel van jou gesin se daaglikse aktiwiteite sodat dit vir jou kind maklik is om by wiskunde betrokke te raak. Maak dit van toepassing wanneer julle bestanddele vir 'n resep afmeet, vir 'n gesinsuitstappie begroot, die tyd bereken of wiskundige raaisels en speletjies tydens gesinsaande geniet.
2. Om jou kind se vordering met wiskunde te ondersteun kan dalk jou deelname verg. Dit beteken jy moet jouself oor jou eie vrees vir wiskunde konfronteer en dit aanpak in 'n aktiwiteit waar julle albei saam somme kan "uitwerk". As jou kind wiskunde aan jou begin verduidelik, is dit 'n teken dat hy/sy meer selfvertroue met wiskundige berekeninge begin ontwikkel.
3. Dit is oukei om foute te maak. Jou kind se onsekerheid spruit dikwels uit vrees vir mislukking. Help hom/haar verstaan dat foute 'n natuurlike deel van die leerproses is. Om kritiek te kan aanvaar is 'n goeie eienskap, en om foute reg te kan maak lei tot dieper begrip en groei.
4. Gebruik bevestiging. In plaas daarvan om net jou kind se korrekte antwoorde te vier, maak 'n punt daarvan om sy/haar pogings aan te moedig. Gebruik sinne soos: "Ek is trots op jou dat jy nie opgee nie," of "Hoe meer jy oefen, hoe meer sien ek dat jy verbeter."





















