'n Groot knou vir die Comrades-wedloop.
So het Nick Bester, 'n voormalige Comrades-kampioen, Donderdagmiddag gesê oor die besluit van Rowyn James, wedloopdirekteur van die Comrades, om ná nege jaar in die pos te bedank.
Mqondisi Ngcobo, voorsitter van die Comrades-vereniging (CMA), het Donderdagmiddag aan Netwerk24 bevestig James het bedank en hy sal van 1 Oktober af nie meer by die prestigeryke ultramarathon betrokke wees nie.

James was onlangs in die nuus oor die debakel met 'n groot aantal atlete wat in vanjaar se wedloop vanaf Pietermaritzburg te vroeg buite Durban afgesny is.
Die CMA het die atlete wat geraak is, later om verskoning gevra vir die fout.
Daar was later sprake van groot spanning tussen James en die CMA-raad. Ngcobo het dit egter ontken dat daar druk van die CMA se kant af op James was om te bedank. "Daar is ook geen slegte gevoelens tussen ons nie. Ons het in der waarheid 'n baie goeie verhouding," het Ngcobo gesê.
James was voordat hy hom in 2014 by die Comrades aangesluit het, wedloopdirekteur van die Twee Oseane-wedloop in die Kaapse Skiereiland.
Ncgobo sê James het bedank om ander uitdagings aan te pak.
Om hom te vervang, sal wees soos om die wiel te herontwerp.
Bester, 'n negemalige gouemedaljewenner en jare lange bestuurder van Nedbank se nasionale span, sê die Comrades verloor in James 'n baie ervare wedloopdirekteur.
James het dié wedloop vroeër self 15 keer voltooi.
"Hy het baie jare se ervaring, ken die Comrades soos die palm van sy hand en ken ál die rolspelers. Om hom te vervang, sal wees soos om die wiel te herontwerp. Ek weet nie waar die Comrades weer so 'n ervare wedloopdirekteur sal kry nie.
"Ja, ek en Rowyn het baie koppe gestamp, maar ek moet sê Rowyn was altyd regverdig. 'n Mens het altyd presies geweet waar jy met hom staan," sê Bester.
James het sy loopbaan baie jare gelede begin as 'n verkoopsman in wyle Andrew Greyling se Run-Away-sportwinkel in Pretoria. Hy was later ook 'n verteenwoordiger van die sportgoedere-vervaardiger Nike voordat hy by die organisering van padwedlope betrokke geraak het.
James se foon was Donderdag afgeskakel. Dit is nie bekend wat hy nou gaan doen nie.


















