Sy het in die media gelees daar is kommer dat sy te veel deelneem, maar baie mense verstaan nie dat sy nie in elke wedloop so vinnig as moontlik hardloop nie.
So het Gerda Steyn, die verdedigende Comrades-kampioen in die afdeling vir vroue in Sondag se op-wedloop Pietermaritzburg toe, Vrydag op 'n mediakonferensie in Durban gesê.

Nadat sy laat verlede jaar in die Valencia-marathon in Spanje 'n SA marathonrekord van 2:24:03 opgestel het, het sy vroeër vanjaar ook die Twee Oseane-wedloop in 'n rekordtyd gewen.
Sy het verlede jaar sowel die Twee Oseane as die Comrades in rekordtye gewen.
"Ek hardloop wedlope soos die Om die Dam (50 km) en die Vaal-marathon as deel van my voorbereiding vir belangrike wedlope en nie om dit so vinnig as moontlik te doen nie," sê Steyn (34).
Sy hardloop wedlope soos dié (wat sy albei gewen het), eerder as om op haar eie 'n oefensessie oor 50 km te doen omdat daar watertafels en ondersteuning langs die roete is, wat sake vergemaklik.
"Ek het vroeër vanjaar vir myself drie prioriteite gestel: Die Twee Oseane, die Comrades en dat ek die Olimpiese marathonspan moet haal."
Steyn sê sy is 100% gefokus op Sondag se Comrades en wil graag 'n beter tyd hardloop as met die laaste op-wedloop in 2019.
Sy het vyf jaar gelede die eerste vrou geword wat die wedloop Pietermaritzburg toe in vinniger as 6 uur kon hardloop (5:58:53).
Steyn sê sy is op die peil waarop sy wou wees en wil haarself Sondag toets of sy dit kan regkry waarvoor sy geoefen het.
Ek put energie uit die druk op my. Sonder druk kan baie atlete soos ek nie presteer nie.
— Gerda Steyn
Sy besef die teenstand sal die beste nóg in die wedloop wees.
Sy weet daar sal soos altyd druk op haar wees om die beste gemiddelde tyd nóg per kilometer te hardloop, wat nou die nuwe maatstaf vir rekords is, maar dit pla haar nie.

"Ek put energie uit die druk op my. Sonder druk kan baie atlete soos ek nie presteer nie. Ek het egter baie respek vir die wedloop. Dit is ver en baie dinge kan verkeerd loop."
Die feit dat daar R500 000 op die spel is vir die atleet wat die vinnigste gemiddelde tyd per kilometer hardloop, sal 'n nuwe dinamika na die wedloop bring.
"Dit sal verseker dat Sondag se wedloop 'n vinnige een sal wees en nie 'n strategiese een nie."
Adele Broodryk, verlede jaar se naaswenner, meen die feit dat die op-wedloop die eerste keer in vyf jaar gehardloop word, help om die speelveld meer gelyk te maak.
Dit sal Broodryk se debuut in die op-wedloop wees. Sy sê as 'n sportwetenskaplike het sy haar navorsing deeglik gedoen.
Sy glo met R500 000 op die spel vir 'n rekordtyd, sal die pas oor die laaste 20 tot 30 km baie vinnig wees.
Broodryk sê Steyn "is 'n ongelooflike atleet wat die maatstaf hoër maak".
In die afdeling vir mans tel Edward Mothibi, die verdedigende kampioen, en sy oefenmaat Tete Dijana, wat die laaste twee af-wedlope gewen het, onder die groot gunstelinge.
"Ek weet nie hoe goed ons teenstanders voorberei het nie, maar ek weet ek en Tete is slaggereed. As ek wen, wen Tete ook, en as hy wen, wen ek ook," sê Mothibi.
Die Nederlander Piet Wiersma, wat verlede jaar met drie sekondes deur Dijana geklop is, word as die groot buiteperd beskou omdat hy nou meer kennis van die roete het en in sy voorbereiding baie kragwerk gedoen het en spesifiek vir die Comrades voorberei het.
• TV: Sondag 05:30; regstreeks op SS 201, 208 en 209.




















