Gerda 19de in Valencia-marathon

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Keniaan Sabastian Sawe wen Sondagoggend die Valencia-marathon in Spanje. Foto: Reuters
Die Keniaan Sabastian Sawe wen Sondagoggend die Valencia-marathon in Spanje. Foto: Reuters

Suid-Afrika se Gerda Steyn het ná haar teleurstellende vertoning vroeër vanjaar in die Olimpiese marathon in Parys, Frankryk, weer 'n tyd van onder 2 uur en 30 minute in die Valencia-marathon in Spanje aangeteken.

Die 34-jarige Steyn kon egter nie verbeter op haar beste marathontyd van 2:24:03 - wat sy verlede jaar in die dieselfde marathon opgestel het - soos sy graag wou nie. Sy was 19de in 2:28:14.

Vier maande gelede in Parys was sy 45ste in 2:32:41.

Die Comrades- en Twee Oseane-kampioen en rekordhouer, is in die 20ste plek in 34 minute verby die 10 km-kerf. Ná 25 km (1:25:26) was sy 15de.

Teen 30 km (01:43:28) het sy een plek teruggesak tot 16de Ná 35 km (2:02:13) was sy 19de en 10 minute agter Ethiopië se Megetu Alemu, wat die wedloop gewen het in 2:16:49.

Die eerste drie vroue het in ideale hardloopweer op 'n plat en vinnige roete onder 2:20 gehardloop en 14 onder 2:25.

Die Comrades-gouemedaljewenner Carla Molinaro was 41ste in die vinnigste marathontyd van haar loopbaan (2:38:35)

Die wedloop vir mans is gewen deur die Keniaan Sabastian Sawe, die halfmarathon-wêreldkampioen, wat verlede jaar vyfde was.

Sawe se wentyd van 2:02:05 is die vinnigste marathontyd vanjaar in die wêreld. Sy spoed oor die laaste 7 km was net te veel vir sy teenstanders.

Die eerste tien atlete het almal vinniger as 2:05 gehardloop.

Deresa Geleta Ulfata van Ethiopië was tweede in 2:02:38, met die Olimpiese 10 000 m-atleet Daniel Mateiko (Kenia) derde in 2:04:24.

SPELETJIES VANDAG

CTA