Atletiek

Vat vier, Gerda!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Gerda Steyn wen Sondag haar vierde Comrades-titel. Sy het die wedloop oor 89,98 km tussen Pietermaritzburg en Durban in 5 uur 51 minute en 19 sekondes gewen.  Foto: Gallo Images
Gerda Steyn wen Sondag haar vierde Comrades-titel. Sy het die wedloop oor 89,98 km tussen Pietermaritzburg en Durban in 5 uur 51 minute en 19 sekondes gewen. Foto: Gallo Images

Gerda Steyn, die goue vrou van Suid-Afrikaanse ultrawedlope, het duisende toeskouers by die eindpunt van Sondag se 98ste Comrades op hul voete gehad.

En oor die land heen het miljoene Suid-Afrikaners op televisie gekyk hoe sy nog 'n sprankelende vertoning lewer en haar vierde Comrades-titel verower.

Sy het ná 5 uur 51 minute en 19 sekondes oor die eindstreep buite die Moses Mabhida-stadion in Durban gehardloop en daarmee gewys sy is waarskynlik die beste vroulike ultra-atleet in die wêreld.

Die wedloop is oor 'n afstand van 89,98 km vanaf Pietermaritzburg gehardloop.

Meer as 22 000 atlete het aan dié moordende wedloop, die oudste en grootste ultrawedloop in die wêreld, deelgeneem.

Die deelnemers het Sondagoggend in twee groepe 'n kwartier ná mekaar voor die stadsaal van Pietermaritzburg weggespring.

Suid-Afrika se Tete Dijana het die Nederlander Piet Wiersma in die afdeling vir mans met vyf sekondes geklop. Dijana het in 'n tyd van 5:25:28 gewen.

Steyn se 3:55 per kilometer is boonop die vinnigste gemiddelde pas tot nog toe deur 'n vrou in die af-wedloop van die Comrades.

"Wat 'n wonderlike dag was dit nie vandag op die pad nie. Hierdie oorwinning is vir álmal," het die 35-jarige Vrystaatse boorling gesê wat vir die span van Hollywoodbets deelneem.

Sy het oudergewoonte met 'n groot glimlag vir die toeskouers by die eindpunt gewaai.

"Ek wou op 'n manier my waardering betoon vir al die ondersteuning wat ek kry.

"Daar is by my geen twyfel nie dat ek vir altyd my gevoel oor die laaste paar treë eindstreep toe sal onthou," het Steyn ná haar oorwinning op 'n mediakonferensie gesê.

"Dié oorwinning, soos my ander oorwinnings, verander my elke keer 'n bietjie."

Sy is die eerste Suid-Afrikaanse vrou wat die Comrades vier keer kon wen.

"Van vandag af sal daar nie 'n dag verbygaan wat ek nie dink aan die Comrades van 2026 nie. Dit is omtrent net wanneer ek slaap dat ek nie aan die Comrades dink nie.

"Die Comrades is deel van my wese. Ek is passievol oor die wedloop en dit is 'n groot voorreg om deel te kan wees hiervan," sê Steyn.

Sy glo daar is nog baie ander "Gerdas" in die land, maar hul talent is nog nie ontdek nie.

"Ek glo daar is baie potensiaal wat ons om watter rede ook al, nie ontgin nie. Ons moet veral fokus op die landelike gebiede want ek glo daar is baie talentvolle atlete."

• Die 75-jarige Louis Massyn van George in die Suid-Kaap het Sondag die eerste atleet geword wat die Comrades 50 keer kon voltooi.

'n Gedane Massyn het die wedloop in die donker onder groot toejuiging met 'n glimlag in 11:53:13 voltooi. Hy is by die eindstreep ingewag deur Barry Holland, wat verlede jaar nie daarin kon slaag om die eerste atleet te word wat die mylpaal bereik nie.

• Prince Nematuazhela, 'n veiligheidswag van Irene in Centurion, is twee weke gelede in 'n rooftog by sy huis in die arm geskiet. 'n Vriend is doodgeskiet en Nematuazhela se vrou is twee keer in die arm gewond.

Nematuazhela het nietemin die Comrades in 'n tyd van 11:48:41 voltooi.

CTA