Gholf

Burmester tem die wind op Royal Troon

Die Suid-Afrikaner Dean Burmester het Vrydag vir 'n tweede opeenvolgende dag van die Britse Ope-gholftoernooi die wind op Royal Troon in Skotland getem.

Burmester, die voorste Suid-Afrikaner in vanjaar se LIV-reeks, het die Suid-Afrikaanse vlag hoog laat wapper en is ná die tweede ronde saam vierde.

Suid-Afrika se Dean Burmester op die 18de putjie ná die tweede ronde van die Britse Ope op Royal Troon. Foto: Getty Images
Suid-Afrika se Dean Burmester op die 18de putjie ná die tweede ronde van die Britse Ope op Royal Troon. Foto: Getty Images

Hy het Vrydag 69 houe in die tweede ronde aangeteken en is nou op 140 houe, twee beter as die baansyfer, in die klubhuis.

Die Ier Shane Lowry is die voorloper op 135 houe (-7), nadat hy sy eerste twee rondtes in 66 en 69 houe voltooi het.

Hy is twee houe voor die onbesonge Daniel Brown van Engeland en sy Engelse landgenoot Justin Rose, wat albei op 137 houe (-5) geëindig het.

Scottie Scheffler, die wêreld se voorste speler op die ranglys wat vanjaar reeds ses toernooi gewen het, tree al hoe sterker na vore.

Hy is saam met Burmester en Billy Horschel op 140 (-2), gevolg deur nog twee Amerikaners, Xander Schauffele en Patrick Cantlay, Jason Day van Australië en Corey Conners (Kanada) saam sewende op 141 (-1).

Burmester het die tweede ronde swak begin toe hy 'n hou aan baansyfer op die eerste putjie (syfer 4) afgestaan het. Hy het op die 14de putjie weer verbrou, maar met vier voëltjies op die derde, sewende, agtste en 16de putjie daarvoor vergoed vir sy ronde van 69.

Afgesien van Burmester, het die ander Suid-Afrikaners nie waffers gevaar nie.

Om tellings in die 60's aan te teken, is op enige dag uitstekend op dié baan, al is die toestande nie so goor soos dit tans is nie.

Louis Oosthuizen (150), die amateur Altin van der Merwe (153) en Ryan van Velzen (155) gaan in alle waarskynlikheid nie die afsnypunt oorleef nie, terwyl Ernie Els (82) hom reeds ná die eerste ronde weens rugprobleme onttrek het.

Dit lyk darem of Thriston Lawrence (+3) en Darren Fichardt (+6), wat met druktyd nog op die baan was, die afsnypunt sou haal, terwyl Christiaan Bezuidenhout (+7) ook op dun ys was.

Lowry het met 'n voëltjie op die 18de putjie afgesluit om met twee houe voor te loop.

"Om tellings in die 60's aan te teken, is op enige dag uitstekend op dié baan, al is die toestande nie so goor soos dit tans is nie. Ek is baie tevrede," het Lowry aan die BBC gesê.

Maar Lowry se ronde het byna op die 11de putjie - bekend as die "Railway", omdat dit langs spoorlyne geleë is - ontspoor.

Lowry se bofhou het in die ruveld beland en net voordat hy sy tweede hou gespeel het, is sy aandag deur 'n fotograaf afgetrek wat sy kamera gelig het om 'n foto te neem.

"Toe ek oor die bal gestaan het, het ek jou met jou f****n kamera gesien. Beweeg net terug. For f**k sakes," het hy geswets.

Lowry het besluit om 'n alternatiewe bal (met 'n strafhou) te speel, maar intussen het 'n toeskouer sy bal in die digte bosse gevind.

Ná 'n gekibbel met 'n reëls-beampte, is daar beslis dat hy die bal wat in die bosse beland het, moes uitgooi en hy is toe met een hou gestraf.

Hy het die putjie in twee houe oor baansyfer voltooi.

Brown, wat maar 272ste op die wêreldranglys is, het Vrydag met 'n bestendige 72 afgesluit.

• KLIK HIER VIR DIE VOORLOPERSBORD

Maar die wind het sake vir die meeste spelers erg beduiwel.

Tiger Woods, wat weer deur honderde ondersteuners gevolg is, het 77 houe (+6) in die tweede ronde aangeteken en op +14 afgesluit.

Woods is glad nie van plan om nou halt te roep nie en toe hy gevra is of hy aanstaande jaar sal aantree, het hy soos volg geantwoord: "Beslis."

Die Noord-Ierse held Rory McIlroy (+13) was ook heeltemal uit die ope-wedloop. - The Golf Channel en BBC

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM