Gholf

Erik vroeg op dreef by Augusta

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Erik van Rooyen was Donderdag vinnig uit die wegspringblokke in die eerste ronde van die Meesterstoernooi by Augusta.  Foto: Getty Images
Erik van Rooyen was Donderdag vinnig uit die wegspringblokke in die eerste ronde van die Meesterstoernooi by Augusta. Foto: Getty Images

Die Suid-Afrikaner Erik van Rooyen was Donderdag vroeg in die eerste ronde van die Amerikaanse Meesterstoernooi die voorloper op die Augusta National-baan.

Van Rooyen het in sy vorige twee probeerslae in dié major-toernooi nie verder as die afsnypunt gevorder nie.

Hy was met die eerste druktyd - nadat reën die eerste ronde se afslaantye met meer as twee uur vertraag het - op die 14de putjie op vier houe beter as syfer, danksy voëltjies op die 3de, 6de, 9de en 13de.

Ryan Fox van Nieu-Seeland was vuurwarm en het teen die tyd wat hy gaan draai het, reeds drie voëltjies en 'n arend op sy telkaart ingevul om op vyf beter as baansyfer die vroeë voorloper te wees.

Die Koreaan Byeong Hun An was saam met Van Rooyen in die gesamentlike tweede plek.

Die amateur Christo Lamprecht het self sy naam vroeg-vroeg onder die voorlopers gevestig en was in 'n stadium drie houe beter as die baansyfer. Agtereenvolgende blapse op die negende en tiende putjies het hom na die gesamentlike agtste plek laat terugsak.

Sy landgenoot Charl Schwartzel, die Meesterskampioen in 2011, het egter gesukkel om hond haaraf te maak en het ná 11 putjies reeds vier houe aan syfer afgestaan.

• Die Aussie Greg Norman, wat onwelkom was by verlede jaar se Meesterstoernooi, het op die vooraand van dié toernooi by Augusta National opgedaag om spelers van LIV Golf te ondersteun, berig die Washington Post.

Norman, 'n tweemalige major-wenner en uitvoerende hoof van LIV Golf, wat deur die regering van Saoedi-Arabië gefinansier word, het glo as 'n toeskouer by Augusta opgedaag.

"Ek is hier omdat ons (LIV Golf) 13 spelers het wat tussen hulle al tien keer die Meesterstoernooi gewen het. Ek wil hulle graag ondersteun."

Norman is die afgelope twee jaar 'n omstrede man in die spel en is nie in 2023 uitgenooi nie, omdat daar gevrees is dat sy teenwoordigheid olie op die vuur sou gooi, gegewe die spanning wat daar tussen spelers van die PGA-reeks en LIV Golf was.

Hy het die besluitnemers by Augusta in 2022 ontstig toe hy hulle van "kleinlikheid" beskuldig het nadat talle LIV-spelers so byna nie toegelaat is om deel te neem nie.

Norman het sy spelers daardie jaar aangeraai om almal na die 18de setperk op te ruk, sou een van hul medespelers die groen baadjie wen.

Hy is later die jaar ook nie na St. Andrews genooi vir die 150ste viering van die Britse Ope nie.

Die organiseerders was bekommerd dat sy betrokkenheid dié geskiedkundige mylpaal sy glans sou ontneem. - Reuters, masters.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM