Gholf

Gholfster (29) tree aan einde van LPGA-seisoen uit

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Lexi Thompson beplan om aan die einde van 2024 uit te tree.  Foto: Getty Images
Lexi Thompson beplan om aan die einde van 2024 uit te tree. Foto: Getty Images

Lexi Thompson van Amerika, 'n voormalige major-kampioen wat haar land in twee Olimpiese Spele verteenwoordig het, sal aan die einde van die LPGA-seisoen voltydse mededingende gholf vaarwel roep.

Die 29-jarige Thompson is 'n wenner van 11 LPGA-titels en sal in haar 18de agtereenvolgende Amerikaanse Ope vir vroue speel wanneer sy Donderdag by die Lancaster-buiteklub in Pennsilvanië afslaan.

"Hoewel dit nooit maklik is om totsiens te sê nie, het die tyd inderdaad aangebreek. Ek sal aan die einde van 2024 van 'n voltydse beroepsgholfskedule wegstap," sê Thompson op Instagram.

"Ek is opgewonde om die res van die jaar te geniet aangesien daar steeds doelwitte is wat ek wil bereik. Ek sien uit na die volgende hoofstuk in my lewe."

Thompson het in 2007 op die toneel gebars toe sy, op die ouderdom van 12, die jongste speler geword het wat vir die Amerikaanse Ope vir vroue gekwalifiseer het, 'n rekord wat sedertdien deur Lucy Li verbeter is nadat sy in 2014 as 11-jarige vir die toernooi gekwalifiseer het.

Thompson het voortgegaan om 'n destydse rekord te behaal as die jongste wenner van 'n LPGA-byeenkoms nadat sy in 2011 die Navistar Classic-toernooi op die ouderdom van 16 gewen het. Sy het in 2014 die tweede jongste vrou geword wat in 'n LPGA-major geseëvier het.

Thompson, wat in haar loopbaan prysgeld van meer as $14 miljoen verdien het en die mees onlangse van haar LPGA-oorwinnings in 2019 behaal het, het ook in ses Solheim-bekerkompetisies deelgeneem en was in 2016 en 2021 'n lid van die Amerikaanse Olimpiese span. - Reuters

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM