Maas gee reusesprong op wêreldranglys

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Dylan Naidoo (links) en Christiaan Maas spog met hul onderskeie trofeë as die Suid-Afrikaanse Ope se wenner en voorste amateur. Foto: GholfRSA
Dylan Naidoo (links) en Christiaan Maas spog met hul onderskeie trofeë as die Suid-Afrikaanse Ope se wenner en voorste amateur. Foto: GholfRSA

Die feit dat die reëngode in Durban Christiaan Maas Sondag die kans ontneem het om vir die Suid-Afrikaanse Ope-kroon te veg, was vir hom 'n groot teleurstelling, maar benewens die Freddie Tait-trofee wat hy as die top-amateur in die toernooi verower het, was daar nog 'n lekker troosprys vir hom.

Dié 21-jarige Pretorianer het op die jongste wêreldranglys 'n boksprong van 'n allemintige 1 503 plekke gegee en bevind hom ná dese in die 843ste posisie.

Maas het Saterdag by die Durban-buiteklub danksy 'n puik ronde van 70 houe in moeilike toestande tot -12, net twee houe agter die gesamentlike voorlopers, Dylan Naidoo van Suid-Afrika en die Brit Laurie Canter, op die voorlopersbord gevorder.

Skielik was hy in 'n goeie posisie om die eerste amateur sedert Denis Hutchinson in 1959 te word wat die SA Ope-titel agter sy naam kan skryf.

Die Durbanse weer het egter 'n stokkie hiervoor gesteek en ná swaar reën oornag, wat groot dele van die baan onderwater gelaat het, is daar besluit dat Naidoo en Canter later die middag om die titel sou uitspeel. Naidoo het danksy 'n puik voëltjie op die syfer-4 18de putjie die titel syne gemaak en die eerste speler van kleur geword wat met die SA Ope-kroon kan spog.

"Dit was 'n bietjie teleurstellend om te weet dat as ek Saterdag die laaste twee putjies na die beste van my vermoë gespeel het, kon ek dalk gewen of saam voor gewees het," het Maas gesê nadat die Tait-trofee aan hom oorhandig is.

"Dis 'n massiewe eer om die Freddie Tait te wen, maar ek is nietemin teleurgesteld dat ons nie vandag of selfs môre (Maandag) kon speel nie."

Maas sê die feit dat hy Saterdag sy aan sy met Canter goed vertoon het, het hom baie selfvertroue vir die laaste ronde gegee.

Naidoo het met sy geskiedkundige triomf ook flink teen die wêreldranglys opgeskiet. Waar hy verlede week nog die 466ste plek beklee het, is hy nou onder die wêreld se top-250-spelers (246).

Dylan Naidoo het die Suid-Afrikaanse Ope-titel Sondag met 'n kort sethou vir voëltjie in sy uitspeelstryd teen Laurie Canter beklink. Foto: Getty Images
Dylan Naidoo het die Suid-Afrikaanse Ope-titel Sondag met 'n kort sethou vir voëltjie in sy uitspeelstryd teen Laurie Canter beklink. Foto: Getty Images

Dié Johannesburger sê benewens die SA Ope-titel, is die feit dat hy ook vir vanjaar se Britse Ope gekwalifiseer het en by Royal Portrush teen die beste spelers ter wêreld gaan speel, is 'n droom wat waar geword het.

Die 27-jarige Naidoo het ook verklap dat hy nie senuweeagtig was voordat hy die puik kaphou in die uitspeelstryd, wat sy deurslaggewende voëltjie moontlik gemaak het, gespeel het nie.

"Die ouens wat oefenrondes saam met my speel, weet ek oefen daardie tipe hou die hele tyd. Ek het geen vrees gehad voordat ek dit gespeel het nie. Dis eintlik 'n lekker wapen wat ek tans in my arsenaal het. Ek was meer bekommerd oor die (kort) sethou. My setstok was soos 'n wriemelende klein wurm toe ek dit teruggeswaai het."

Naidoo, wat lid was van GholfRSA se nasionale amateurspan en in 2019 die beroepsgeledere betree het, beklee nou ook die voorste plek op die Sonskynreeks se merietelys.

Met slegs vandeesweek se Joburg-Ope en twee uitspeeltoernooie oor, is hy in die binnebaan om dít ook te wen. Slaag hy daarin, sal dit vir hom deure oopswaai om plaaslik in die Nedbank-uitdaagtoernooi by Sun City, asook ander groot oorsese toernooie te speel.

Joe Highsmith het 'n verrassende toernooisege in die Cognizant Classic in Florida, VSA, behaal. Foto: AP
Joe Highsmith het 'n verrassende toernooisege in die Cognizant Classic in Florida, VSA, behaal. Foto: AP

• VOLLEDIGE UITSLAE

• Die onbesonge 24-jarige Amerikaner Joe Highsmith het Sondag in Palm Beach Gardens, Florida, sy eerste titel in die Amerikaanse PGA-reeks gewen. Highsmith (-17) het twee houe voor sy landgenote Jacob Bridgeman en JJ Spaun in die Cognizant Classic geëindig.

Die Suid-Afrikaner Erik van Rooyen het 'n gesamentlike negende plek behaal. - Sportredaksie; GholfRSA

SPELETJIES VANDAG

CTA