Gholf

Scheffler gee groot tree nader aan eerste Britse Ope-kroon

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Scottie Scheffler val op sy knieë nadat hy Saterdag op die 17de putjie so ampertjies nog ’n sethou vir ’n voëltjie in die derde ronde van die Britse Ope ingerol het.  Foto: AP
Scottie Scheffler val op sy knieë nadat hy Saterdag op die 17de putjie so ampertjies nog ’n sethou vir ’n voëltjie in die derde ronde van die Britse Ope ingerol het. Foto: AP

Scottie Scheffler is nog goed op koers om die Claret Jug Sondag die eerste keer in sy loopbaan te lig.

Die Amerikaner, die wêreld se voorste gholfspeler, het Saterdag op die Royal Portrush-baan in Noord-Ierland met 'n puik rondte van 67 houe (-4) sy voorsprong in die Britse Ope na vier houe gerek. Sy totaal ná drie rondes is 14 houe beter as die baansyfer.

Scheffler se naaste teenstander is die verrassingspakkie in dié major, die onbesonge Haotong Li. Dié Chinees (-10) het ondanks 'n brouhou op die laaste putjie steeds 'n 69 op sy telkaart ingevul en sal Sondag laaste saam met Scheffler in die vierde ronde afslaan.

Die Engelsman Matt Fitzpatrick, wat die dag net een hou agter Scheffler (die oornagvoorloper) begin het, was nie op sy beste nie en moes met 'n 71 tevrede wees. Hy is vyf houe agter Scheffler.

Rory McIlroy het nie die groot skare mense wat hom Saterdag op die Royal Portrush-baan gevolg het, teleurgestel nie.  Foto: Reuters
Rory McIlroy het nie die groot skare mense wat hom Saterdag op die Royal Portrush-baan gevolg het, teleurgestel nie. Foto: Reuters

Die wêreld se nommer een het ná agtereenvolgende syfers op die eerste ses putjies sy voet op die versneller gesit en op die volgende twee putjies onderskeidelik 'n arend en 'n voëltjie aangeteken.

Sy metronomiese setwerk het hom op die moeilike tweede nege uit die moeilikheid gehou en hy het op die uitdagende 16de putjie (syfer-3) selfs nóg 'n voëltjie aangeteken.

As Scheffler, die wenner van twee Meesterstoernooie, asook vanjaar se PGA-kampioenskapstoernooi, dié spelpeil Sondag kan volhou, sal hy moeilik van die trofee in die wêreld se oudste Ope weerhou word.

Die groot tuisgunsteling, die Noord-Ier Rory McIlroy (-8), het die duisende toeskouers wat hom gevolg het met uitstekende rondte van 65 houe vermaak, en is ook nog nie heeltemal uit die prentjie nie.

Wat die drie oorblywende Suid-Afrikaners in die toernooi betref, het Thriston Lawrence (-2) Saterdag die beste gevaar met 'n rondte van 68 houe. Christiaan Bezuidenhout (-4) gee egter steeds die pas onder die Suid-Afrikaners aan. Hy het die derde ronde in 69 houe voltooi.

Die derde Suid-Afrikaner, Dean Burmester (+5), het 'n teleurstellende 76 aangeteken.

CTA