Gholf

Scheffler verbeter Woods se ranglys-rekord

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Scottie Scheffler is uitstekend op dreef.  Foto: Getty Images
Scottie Scheffler is uitstekend op dreef. Foto: Getty Images

Is Scottie Scheffler op koers om 'n beter seisoen as Tiger Woods in 2000 te ervaar? Die antwoord is ja indien jy die amptelike wêreldgholfranglys (OWGR) raadpleeg.

Scheffler het in 2024 se eerste ses maande 583 wêreldranglyspunte verdien. Dit verbrysel Woods se rekord van 532 wat hy in die eerste ses maande van 2000 versamel het.

Die selfverklaarde OWGR-kenner Nosferatu op X was die eerste wat uitgewys het dat Scheffler se algehele OWGR-totaal Woods s'n oortref. Dit het gebeur nadat Scheffler Sondag die Travelers-kampioenskap gewen het. Hy het tot dusver vanjaar ses oorwinnings behaal, almal by gesogte toernooie: die Spelerskampioenskap, die Meesters en vier van die PGA-reeks se vlagskiptoernooie.

Daarteenoor, toe Woods in die jaar 2000 nege PGA-toernooie gewen het, het hy vyf daarvan teen die einde van Junie behaal: die Mercedes-kampioenskap, die AT&T Pebble Beach Pro-Am-toernooi, die Bay Hill-uitnodigingstoernooi, die Memorial-toernooi en die Amerikaanse Ope.

Scheffler het homself 'n guns bewys deur oor uiters talentvolle spelers te seëvier, aangesien die OWGR-stelsel die gehalte van die groep mededingers in toernooie as deel van sy ranglysalgoritme beoordeel.

Scheffler het in die huidige ranglystydperk 810,78375 punte in 46 byeenkomste versamel. Dit is byna dubbel soveel soos wat die wêreldnommertwee, Rory McIlroy van Noord-Ierland, oor dieselfde tydperk verdien het: 428,34583 in 46 byeenkomste.

Scheffler het egter nog 'n entjie om te gaan indien hy van Woods se ander rekords wil verbeter. Die 28-jarige Amerikaner bevind hom 93 agtereenvolgende weke boaan die wêreldranglys sedert hy in Maart 2022 na die eerste plek opgeskuif het, maar Woods het daardie posisie van 2005 tot 2010 vir 'n rekordgetal van 281 weke beklee - wat sy eie rekord van 264 agtereenvolgende weke boaan die ranglys van 1999 tot 2004 verbeter het.

Die OWGR is die laaste jare deur LIV Golf-spelers gekritiseer omdat die rebellereeks se toernooie nie aan die kriteria voldoen om wêreldranglyspunte te ontvang nie. - Reuters

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM