Eendagreeks

Lions, WP reg vir Wanderers-eindstryd

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Dominic Hendricks, kaptein van die Lions se eendagkrieketspan.Foto: Deaan Vivier
Dominic Hendricks, kaptein van die Lions se eendagkrieketspan.Foto: Deaan Vivier

Die Lions en die WP sal Donderdag op die Wanderers in Johannesburg in die eindstryd van Krieket Suid-Afrika (KSA) se eendagreeks teen mekaar speel.

Die Lions is die verdedigende kampioen.

Die Johannesburgse span het met twee wedstryde oor reeds sy plek in die eindstryd bespreek, terwyl die WP dit eers in sy laaste wedstryd reggekry het toe hy die Rocks van die Paarl oortuigend met 74 lopies geklop het.

Die WP het met dié oorwinning vir die eindstryd gekwalifiseer.

"Ons is baie gelukkig dat ons daarin kon slaag om seker te maak ons speel voor ons tuisskare in die eindstryd. Ons het 'n baie goeie toernooi tot dusver gehad," het Dominic Hendricks, kaptein van die Lions, luidens 'n verklaring van KSA gesê.

Hy sê wanneer dit in die aanloop tot die eindstryd saak gemaak het, het individuele lede van die span hul hande opgesteek deur Speler van die Wedstryd-vertonings te lewer.

"Ek glo die sleutel tot ons sukses was ons goeie oorwinnings in die eerste paar wedstryde op ons tuisveld en ook dat ons goed in ons wegwedstryde gespeel het," sê Hendriks.

"Deur die trofee te wen, kan ons wys hoe 'n goeie groep dié al oor die laaste paar jaar in veral dié formaat is."

Wayne Parnell, die WP-kaptein, sê dit is belangrik vir die WP om die trofee te wen nadat hy veral in die laaste twee seisoene goeie eendagkrieket gespeel het.

"Ons uitdaging was om onsself in 'n posisie te kry om na die eindstryd deur te dring.

"Nou het ons die geleentheid om die beker te verower," het Parnell gesê.

Hy sê die eindstryd sal aan jong spelers die geleentheid bied om iets spesiaals te bereik.

"Ons weet dit sal nie maklik wees teen die span wat bo-aan die punteleer geëindig het nie. Ons verwag 'n taai wedstryd teen 'n baie goeie span," het Parnell gesê.

"Ons sal steeds soos die res van die seisoen die basiese dinge reg moet doen en goeie krieket moet speel."

CTA