Ruan Ackermann, voormalige losvoorspeler-yster van die Leeus, sal hom van volgende seisoen af by die Stormers aansluit.
Netwerk24 het verlede week berig die Stormers praat met die 29-jarige Ackermann. Daar is betroubaar verneem dat die kontrak nou formeel gesluit is. 'n Aankondiging word eersdaags verwag.
Hoewel die Stormers se fokus daarop is om plaaslike talent deur te bring, is daar 'n skielike tekort aan ervare losvoorspelers in die Kaap. Die Engelsman Dave Ewers en Willie Engelbrecht is albei weg, terwyl die jongeling Divan Fuller beseer is. Dit was dus 'n sinvolle besluit om Ackermann te kontrakteer.
Die Stormers het wel hul arbitrasie-saak met die Springbok-losvoorspeler Ben-Jason Dixon gewen en hy sal tot in Julie 2027 in die Moederstad moet bly, tensy hy vrygestel word.
Voorts het die buitesenter Wandisile Simelane sy kontrak met die Stormers met 'n jaar verleng.






















