Die Engelse draaibalboulers Sophie Ecclestone en Sarah Glenn het Ierland Maandag deurmekaar geboul in die twee spanne se kragmeting in die T20-Wêreldbeker (T20-WB)-toernooi in die Paarl.
Engeland het die Groep 2-wedstryd op 'n drafstap met vier paaltjies gewen.
Die Iere het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Hulle was egter almal terug in die paviljoen vir 105 in 18.2 boulbeurte. Engeland (107/6) het die wenteiken met nog 34 balle oor aangeteken.
Met die uitsondering van Gaby Lewis (36, 37 balle) het die Ierse kolwers gesukkel om lopies aan te teken.
Ecclestone (3/13), Glenn (3/19) en nog 'n draaibalbouler, Charlie Dean (2/26), het die Iere dronk gedraai.
Dit was egter nie net Engeland se boulers wat uitgeblink het nie. Alice Capsey (50, 22 balle, 10x4, 1x6) het 'n blitsige en indrukwekkende kolfbeurt gespeel.
Die 18-jarige Capsey het met haar kolfbeurt die vinnigste 50-tal in 'n T20-WB vir vroue - van 21 balle - geëwenaar wat agter Alyssa Healy (Australië) en Sophie Devine (Nieu-Seeland) se naam pryk. Healy en Devine het hul prestasie in 2018 in Providence bereik.
Engeland het met die oorheersende vertoning onderstreep dat hy inderdaad een van die gunstelinge is om die toernooi te wen. Die Engelse se volgende wedstryd is Saterdag teen Indië in Gqeberha.
• Australië en Bangladesj pak mekaar Dinsdag om 19:00 in 'n Groep A-wedstryd ook in Gqeberha.






















