Krieket

Engelse ster Eoin pak kolf finaal weg

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Eoin Morgan stap verlede Woensdag op die Wanderers terug paviljoen toe nadat hy deur die Pretoria Capitals uitgehaal is in die SA20-halfeindstryd teen die Paarl Royals. Dit was Morgan se laaste kolfbeurt as beroepspeler.  Foto: Gallo Images
Eoin Morgan stap verlede Woensdag op die Wanderers terug paviljoen toe nadat hy deur die Pretoria Capitals uitgehaal is in die SA20-halfeindstryd teen die Paarl Royals. Dit was Morgan se laaste kolfbeurt as beroepspeler. Foto: Gallo Images

Eoin Morgan, onder wie se kapteinskap Engeland die Wêreldbeker-toernooi in 2019 gewen het, het sy uittrede uit alle formate van krieket aangekondig.

Die 36-jarige Morgan het verlede jaar uit internasionale krieket getree, maar het sedertdien nog T20-krieket op franchisevlak gespeel.

Sy laaste wedstryd was verlede Woensdag vir die Paarl Royals teen die Pretoria Capitals in die halfeindronde van die SA20-reeks. Hy het toe 17 lopies aangeteken.

Morgan het Engeland in 126 eendag- en 72 T20-wedstryde aangevoer. Die Engelse het 118 van dié kragmetings gewen.

"Nadat ek lank oor die saak gedink het, glo ek dis nou die regte tyd om die spel te groet wat my soveel oor die jare gegee het," het Morgan in 'n verklaring op Twitter gesê.

"Ek sal sonder twyfel die avontuur en uitdagings van beroepskrieket mis. Sedert my uittrede uit internasionale krieket kon ek meer tyd saam met my geliefdes deurbring en ek sien daarna uit om dit vorentoe nog meer te kan doen."

Morgan, wat in Dublin gebore is, het op 16-jarige ouderdom sy internasionale eendag-debuut vir Ierland gemaak.

Hy is in 2009 deur Engeland opgeroep en het uiteindelik in 248 eendagstryde, 115 T20-kragmetings en 16 toetse gespeel. Hy het 10 159 lopies in internasionale witbalkrieket opgestapel en 700 in toetse. - Reuters; Sportredaksie

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM