Die Walliese senter Jonathan Davies (36), wat 'n blaaskans geneem het sedert hy die Scarlets aan die einde van verlede seisoen verlaat het, het sy uittrede uit beroepsrugby aangekondig.
Davies het in 96 toetse vir Wallis uitgedraf, twee Grand Slams vermag en 'n verdere twee Sesnasies-titels gewen, terwyl hy ook in ses toetse vir die Britse en Ierse Leeus gespeel het.
Hy het hom in 2006 by Scarlets aangesluit en in 2016 teruggekeer nadat hy twee jaar by die Franse klub Clermont Auvergne deurgebring het.
Davies, met die bynaam Fox, het in Mei aangekondig dat hy Scarlets verlaat en gesê hy is nog op soek na een geleentheid in die sport. Hy het nou egter besluit om finaal afskeid te neem.
"Ek het nadat ek aan die einde van my laaste seisoen saam met die Scarlets 'n tydjie weg van die sport deurgebring het, besluit om my beroepsrugbyloopbaan te beëindig," sê Davies op Instagram.
"Ek het 'n aftydjie en 'n somer by die huis saam met my gesin geniet en was gelukkig genoeg om saam met my vrou gehaltetyd saam met my pasgebore seun deur te bring, terwyl ons hierdie nuwe hoofstuk saam as ouers aanpak.
"Ek was gelukkig genoeg om die sport 18 jaar lank as 'n beroep te beoefen en het alles wat ek het daaraan toegewy om die beste rugbyspeler te wees wat ek kon wees." - Reuters





















