Die draaier Keshav Maharaj is Donderdagaand in Kempton Park op Krieket Suid-Afrika (KSA) se prysuitdeling as die Speler van die Jaar aangewys.
Die Proteas se toets- en eendagkaptein, Temba Bavuma, is as die Toetsspeler van die Jaar vereer.
Die draaier Nonkululeko Mlaba is die Vrouespeler van die Jaar.
Die tydperk waarin spelers beoordeel is, het tot einde April gestrek.
Die 35-jarige Maharaj het Bavuma, Ryan Rickelton, Marco Jansen en Kagiso Rabada geklop toe hy met die voorste prys bekroon is.

Maharaj, 'n senior speler en lid van die leierskorpsgroep, is een van die Proteas se mees toegewyde en lojale spelers.
Hy was verlede jaar die spelers se Speler van die Jaar.
Hy is onlangs ook met die kapteinskap van die toetsspan toevertrou toe Bavuma weens 'n besering nie kon saamtoer na Zimbabwe nie.
Maharaj was verlede jaar met 13 paaltjies in twee toetse die Speler van die Reeks toe die Proteas in Augustus teen die Wes-Indiese Eilande in die Karibiese Eilande gespeel het.
Hy het in Oktober op die toer na Bangladesj weer 13 paaltjies in die twee toetse teen die Tiere laat kantel.
Daar was ook 'n vyftal (5/67) in Sri Lanka se tweede beurt in Gqeberha.
Maharaj het die Proteas in al drie formate verteenwoordig.
Die snelbouler Anrich Nortjé was die T20-speler van die Jaar en Heinrich Klaasen die Eendagspeler van die Jaar.
Klaasen het intussen sy uittrede uit internasionale krieket aangekondig.
Lefty, soos Mlaba bekendstaan, was ook T20-speler van die Jaar en die spelers se Speler van die Jaar onder die vroue.
Die 25-jarige Mlaba het geskiedenis gemaak toe sy 10 paaltjies in 'n toets - 4/90 en 6/67 - in Desember teen Engeland in Bloemfontein laat kantel het.

EERBEWYSE:
Plaaslike krieket:
KSA se skeidsregters se Skeidsregter van die Jaar: Abdoellah Steenkamp
KSA se Skeidsregter van die Jaar: Allahudien Paleker
Afdeling 1 se Afrigter van die Jaar: Russell Domingo (Lions)
Afdeling 2 se Afrigter van die Jaar: Ahmed Amla (Tuskers)
T20-uitdaagreeks se Speler van die Seisoen: Kwena Maphaka (Lions)
T20-uitklopreeks se Speler van die Seisoen: Christopher Britz (Oostelikes)
Afdeling 1 se Eendagspeler van die Seisoen: Jon-Jon Smuts (Dolphins)
Afdeling 2 se Eendagspeler van die Seisoen: Jerome Bossr (Oos-Kaapse Iinyathi)
Afdeling 1 se Meerdagspeler van die Seisoen: Lhuan-dré Pretorius (Titans)
Afdeling 2 se Meerdagspeler van die Seisoen: Ernest Kemm (Noord-Kaap)
Spelersvereniging se Waardevolste Speler van die Jaar:
Prenelan Subrayen (Dolphins).
Plaaslike spelers se Speler van die Seisoen: Dewald Brevis (Titans)
Vroue se Afdeling 1-afrigter van die Jaar: Shaun Pretorius (Lions)
Pro20-speler van die Seisoen: Kayla Reyneke (WP)
Pro50-speler van die Seisoen: Suné Luus (Titans)
Spelersvereniging se Waardevolste Speler van die Jaar:
Leah Jones (WP).
Plaaslike spelers se Speler van die Seisoen: Nondumiso Shangase (Dolphins)
SA20 se o. 25-speler van die Seisoen: Dewald Brevis
SA20 se Kolwer van die Seisoen: Lhuan-dré Pretorius
SA20 se Bouler van die Seisoen: Marco Jansen
SA20 se Speler van die Seisoen: Marco Jansen
Internasionale krieket:
Nuweling van die Jaar: Ottneil Baartman
T20-speler van die Jaar: Anrich Nortjé
Eendagspeler van die Jaar: Heinrich Klaasen
Toetsspeler van die Jaar: Temba Bavuma
Spelers se Speler van die Jaar: Kagiso Rabada
Speler van die Jaar: Keshav Maharaj
Vroue:
Nuweling van die Jaar: Ayanda Hlubi
T20-speler van die Jaar: Nonkululeko Mlaba
Eendagspeler van die Jaar: Annerie Dercksen
Spelers se Speler van die Jaar: Nonkululeko Mlaba
Speler van die Jaar: Nonkululeko Mlaba.
Ondersteuners se Speler van die Jaar: Temba Bavuma
Makhaya Ntini Power of Cricket-eerbewys: Dane Paterson


















