Die voormalige Protea-bouler Sisanda Magala sal hoop om sy loopbaan weer by die Knights aan die gang te kry.
Die 34-jarige naatbouler was in Oktober 2023 laas op die krieketveld in 'n provinsiale wedstryd - 'n eendagwedstryd vir die Lions teen die Warriors op die Wanderers.
Hy is van die Lions na die Titans, maar het die afgelope seisoen geen wedstryde vir die Titans gespeel nie.
Dit is onder meer weens fiksheidsprobleme waarmee hy telkens in sy loopbaan gesukkel het.
Johan van Heerden, uitvoerende hoof van die Knights, sê hulle sal Magala uiteraard aan die nodige fiksheidstoetse onderwerp soos verlang word.
Magala het van 2021 tot 2023 in agt eendag- en ses T20-wedstryde vir Suid-Afrika gespeel.
Hy het as doodsnikbouler sy stempel afgedruk en ook in die Indiese Premierliga in 2023 vir die Chennai Super Kings gespeel.
Die Knights het intussen nog nie 'n datum van Krieket Suid-Afrika gekry vir mediasie rakende hul dispuut oor die puntestand in die plaaslike eendagreeks nie.
- johann.dejager@24.com





















