'n Hardnekkige kolfbeurt deur die Rocks se kaptein, Pieter Malan, het Maandag 'n onbesliste uitslag teen die Westelike Provinsie in die provinsiale meerdaagse krieketreeks verseker.
Die Rocks, wat hul tweede beurt met 'n agterstand van 177 lopies begin het, het in die wedstryd op Boland Park in die Paarl 119 boulbeurte vir hul telling van 269/4 gekolf.
Malan, wat 94 in die eerste beurt aangeteken het, het 349 balle vir sy onoorwonne 117 (12x4) oorleef. Hy het goeie ondersteuning van Isna-eel Gafieldien (61 van 164 b) ontvang. Die draaier Kyle Simmons het 3/81 in 45 boulbeurte vir die WP geneem.
Salieg Nackerdien, die WP se breier, sê nietemin hy is trots op sy spelers.
"Ons het beheer geneem van die wedstryd op die eerste dag en het goed daarin geslaag om hulle (die Rocks) tot 267 op 'n baie mak kolfblad te beperk. Ons het daarna uitstekend gekolf.
"Ek het ook gehou van hoe hard die boulers gewerk het, al het die paaltjies nie geval nie," sê Nackerdien.
Die wedstryd tussen die Titans en die Dolphins het ook Maandag onbeslis geëindig. Weens reën was geen spel op die laaste dag in Centurion moontlik nie.
Dit beteken dat die Lions en die Knights die enigste spanne is wat die naweek wedstryde in Afdeling 1 van die provinsiale meerdaagse reeks gewen het. Hulle het binne drie dae onderskeidelik met die Warriors en die Dragons afgereken.
Die Lions is die vroeë pasaangeërs in die reeks met twee oortuigende oorwinnings in albei hul eerste twee wedstryde.
Die Warriors en die Knights het sover albei 'n wedstryd gewen.
Die res - die Titans, Dolphins, Dragons, Rocks en die WP - is almal steeds op soek na hul eerste sege.
Die volgende ronde van wedstryde begin op 18 November.
















