Meerdagreeks

WP steeds in beheer van meerdag-eindstryd

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Gavin Kaplan (60) het Donderdag vir die WP met die kolf uitgeblink teen die Lions. Foto: Gallo Images
Gavin Kaplan (60) het Donderdag vir die WP met die kolf uitgeblink teen die Lions. Foto: Gallo Images

Die Lions se Tshepho Moreki het Donderdag op die Wanderers 'n goeie vertoning gelewer met boulsyfers van 5/65, maar die Westelike Provinsie is steeds in beheer ná die tweede dag van die eindstryd van die provinsiale meerdag-krieketreeks.

Die WP het sy eerste beurt op 312 geëindig om hom 'n voorsprong van 87 lopies te gee. Die Lions het egter vir die tweede keer 'n swak begin tot hul beurt gemaak en albei aanvangskolwers vroeg verloor. Die telling met die uitskeityd was 10/2.

Die WP het die dag se spel voortgesit op 49/0 met Edward Moore (35*) en Tony de Zorzi (12*) wat dag een afgesluit het.

Die oggend het die aanvangskolwers goed uit die blokke gespring met De Zorzi wat aangetree het met duidelike planne om lopies te jaag.

Moore (45) het ook goed gelyk, maar ná hy homself begin vestig het, was hy die eerste slagoffer van Moreki, uitgevang op tweede glip.

Met die telling op 72/1 het Mohammad Vallie na die veld gekom. Vallie het nie tyd gemors nie en begin met 'n goeie grenshou, terwyl De Zorzi elke nou en dan 'n slegte aflewering van die tuisspan se boulers gestraf het.

Vallie en De Zorzi was net goed op dreef met 'n vennootskap van 46, voor Delano Potgieter Vallie se paaltjie vir 28 laat kantel het. Dit het met die telling op 118/2 vir Gavin Kaplan na die blad gebring.

De Zorzi het kort daarna sy vyftigtal aangeteken, maar net so vinnig soos hy die mylpaal bereik het, is hy ook uit (51) toe Moreki sy tweede paaltjie geneem het.

Sy vertrek het die WP-kaptein, Kyle Verreynne, met die telling op 135/3 sy kolfkans gegee.

Tshepho Moreki was baie gelukkig toe hy die WP-kaptein, Kyle Verreynne, se paaltjie geneem het.Foto: Gallo Images
Tshepho Moreki was baie gelukkig toe hy die WP-kaptein, Kyle Verreynne, se paaltjie geneem het.Foto: Gallo Images

Verreynne en Kaplan het goed gevaar en rustig gekolf tot middagete, om die telling tot 147/3 te neem.

Die duo het probeer om dinge weer aan die gang te kry ná middagete, maar dit was nie lank daarna nie toe Verreynne (14) been voor paaltjie deur Moreki betrap is.

Daniel Smith en Kaplan het die skip weer op koers gekry vir die besoekers met 'n stewige vennootskap van 87.

Die paar het gekolf tot teetyd en die telling tot 240/4 geneem.

Kort ná die teetyd is Smith (60) egter deur Bjorn Fortuin been voor paaltjie betrap. Die WP het toe begin wankel en hoewel Kyle Simmonds (7) vinnig uitgeblink het met 'n grenshou het hy nie lank staande gebly nie en hy is deur Dominic Hendricks voor die penne betrap.

Mihlali Mpongwana en Smith het probeer om die beurt aan die gang te hou. Net voor die tweede nuwe bal, is Mpongwana (28) deur Fortuin gevang van sy eie boulwerk.

• TELKAART

Met die telling op 301/8 en 'n voorsprong van 76 het Beuran Hendricks en Dane Paterson probeer om die WP tot die einde van die dag te neem.

Moreki het egter ander planne gehad en Paterson (4) se paaltjie geneem. Hy het daarna toe vir die eerste keer in 96 wedstryde sy vyfde paaltjie geneem deur Mthiwekhaya Nabe (0) ook deur die paaltjiewagter te laat vang.

Met die WP almal uit vir 312 lopies, het die Lions hul tweede beurt begin met 'n agterstand van 87 lopies.

Met 'n uur se spel oor in die dag, het die Lions se aanvangskolwers Dominic Hendricks en Joshua Richards vir die tweede keer geploeter.

Hendricks (6) was Nabe se slagoffer, uitgevang deur Smith.

Paterson het sy goeie vertonings van die eerste dag voortgesit en Richards (2) se paaltjie geoes om die tuisspan op 8/2 te laat wankel.

Met 15 minute oor is Moreki (1*) as naguiltjie ingestuur om Zubayr Hamza (1*) te help om tot die einde van die dag te oorleef. Die twee sal Vrydag met die telling op 10/2 voortkolf, steeds 77 lopies agter die WP.

CTA