Krieket

Mzansi-T20-krieketreeks vir eers uitgestel

Die beoogde vergrote Mzansi-T20-krieketreeks gaan nie meer die komende seisoen plaasvind nie.

Victor Mpitsang Foto: Gallo Images
Victor Mpitsang Foto: Gallo Images

Dié reeks, waarin agt in plaas van ses spanne sou gespeel het, is tot volgende seisoen uitgestel.

Die Knights en 'n span van Oos-Londen sou saam met die oorspronklike ses spanne gespeel het wat in 2018 en 2019 in die MSL meegeding het.

Krieket Suid-Afrika behoort met die bekendstelling van die seisoen se bepalings meer duidelikheid te gee oor waarom die T20-reeks uitgestel is.

Die plaaslike 2020-'21-seisoen sal wel 'n T20-reeks hê waaraan die Titans, Knights, Cape Cobras, Dolphins, Warriors en Lions in 'n enkelronde sal meeding.

Volgens die voorgestelde bepalings sal die seisoen weens die Covid-19-pandemie steeds in November met die meerdagreeks begin.

Die meerdagreeks sowel as die eendagreeks kan die komende seisoen weer net oor 'n enkelronde beslis word.

Wat internasionale krieket betref, kan daar besoeke van Engeland aan die begin van die seisoen en Pakistan aan die einde van die seisoen wees.

Engeland se toer - 'n T20- en eendagreeks - sal bevestig word sodra internasionale reisreëlings dit toelaat. Die verwagting is dat die Engelse reeds in November in die land kan wees.

Dié toer sal die nuwe keurderbaas van die Proteas se vuurdoop wees.

Die uitgestelde onderhoude om 'n nuwe keurderbaas aan te stel, is uiteindelik Vrydag gehou.

Die voormalige sameroeper, Linda Zondi, wat die afgelope seisoen waargeneem het, was nie op die kortlys nie.

Die voormalige Protea-naatbouler Victor Mpitsang word as die gunsteling beskou om aangestel te word. Hy was voorheen die sameroeper van die keurders by die SA o.19-span.

CTA