Australië se Glenn Maxwell moes hom onttrek aan vandeesweek se T20-reeks teen Nieu-Seeland nadat hy sy arm in ’n fratsvoorval in die oefennette gebreek het.
Die 36-jarige draaier se arm het ’n fraktuur opgedoen toe hy deur ’n hou van die mokerman Mitchell Owen getref is toe hy in die nette in Mount Maunganui geboul het.
Die Aussies se eerste van drie T20-wedstryde teen die Kiwi’s word Woensdag daar beslis.
Matthew Short was in die aangrensende oefennet toe Maxwell getref is.
“Ek het dit uit die hoek van my oog gesien,” het Short aan cricket.com.au gesê.
“Ek het gesien hoe Owen die bal moker en toe die nadraai. Dit het Maxi op die polsgewrig getref. Dit het nie goed geklink nie.
“Owen is nie die ou na wie jy in ’n T20-oefening wil boul nie, dis vir seker.”
Maxwell is intussen deur die paaltjiewagter-kolwer Josh Philippe vervang.
Dis die tweede besering in die Aussies se groep. Josh Inglis het vroeër ’n kuitbesering opgedoen en is deur Alex Carey vervang.
Maxwell het in sy loopbaan al ’n klompie bisarre beserings gehad.
Hy het sy been gebreek toe ’n vriend drie jaar gelede by ’n 50ste verjaardagpartytjie daarop geval het.
Hy het ook harsingskudding opgedoen by 2023 se Wêreldbeker-toernooi in Indië toe hy uit ’n gholfkarretjie geval het.
“Maxi het nou al ’n paar slegte beserings opgedoen,” het Short gesê.
“Hy was ’n bietjie teleurgesteld, maar dis net soos enige ander besering. Ek is seker hy sal daardeur kom.”
Die tweede en derde wedstryde teen die Kiwi’s word Vrydag en Saterdag ook in Mount Maunganui gespeel.
Maxwell gaan ná dese straks ook nie vir die reeks van vyf T20-tuiswedstryde teen Indië oorweeg kan word nie. Die eerste wedstryd van dié reeks is op 19 Oktober in Perth.
3878













