Dané van Niekerk, voormalige kaptein van die Protea-vrouespan, sê sy voel deesdae "ongemaklik" wanneer sy krieketuitrustings dra.
Van Niekerk is vroeër vanjaar op omstrede wyse uit Suid-Afrika se groep vir die T20-Wêreldbekertoernooi op tuisbodem gelaat nadat sy 'n tydtoets van 2 km met 18 sekondes gedop het.

Sy het ná die toernooi haar uittrede uit internasionale krieket aangekondig.
Die 30-jarige Van Niekerk sal die Oval Invincibles in The Hundred-toernooi aanvoer wanneer dit in Augustus begin.
"Ek sal in my alledaagse lewe in 'n kortbroek en T-hemp rondloop. Ek voel piekfyn - soos 'n mens, 'n normale mens," sê sy in 'n onderhoud met BBCSport.
"Ek voel nie oorgewig nie, ek voel gemaklik. Maar die oomblik wat ek krieketuitrusting aantrek, voel ek ongemaklik en ek voel dit is onnodig.
"Dit is maklik om oor die fiksheidaspek te praat. Dit is nie 'n leuen nie - ek was nooit die maerste krieketspeler ter wêreld nie, maar ek het wedstryde vir my franchises gewen. Ek het wedstryde vir my land gewen.
"Ek besef hoe belangrik fiksheid is - ek sal dit nooit minag nie - maar jy kan nie iemand verwerp of hulle laat sleg voel omdat hulle nie lyk of dinge doen soos jy verwag nie."
Van Niekerk sê die afgelope vyf maande het ook 'n tol op haar eggenoot, die veelsydige Protea-ster Marizanne Kapp, geëis.
"Sy is baie meer emosioneel as ek. Ek kom soms op haar af terwyl sy huil en ek verstaan nie hoekom sy huil nie, dan sê sy dat sy vir my huil," sê Van Niekerk.
"Marizanne was ná die fiksheidstoets in die kamer. Ek het dit uiteraard nie gemaak nie en ek was verpletter, want ek het soveel werk ingesit.
"Ek het nie geëet nie. Sy het besef dit is ongesond. Sy het dit saam met my ervaar.
"Maar sy is wonderlik. Ek kon nie vir 'n beter vennoot gevra het nie. Sy is wonderlik in haar ondersteuning. Ek is eenvoudig geseënd om haar in my lewe te hê." - Sportredaksie





















