Mlaba skitter: Dankie, Dané!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Marizanne Kapp brul ná haar paaltjie teen die Windies.Foto’s: getty
Marizanne Kapp brul ná haar paaltjie teen die Windies.Foto’s: getty

'n Tydige meester-wenk deur die voormalige Suid-Afrikaanse vrouekaptein Dané van Niekerk het die briljante linksdraaier Nonkululeko Mlaba in vyfde rat gekry.

Dit, en die kolfverstellings wat die Protea-vroue die laaste paar maande gemaak het teen die draaiers, gee aan die span goeie skietgoed teen die Engelse swaargewigte voor môre se kragmeting in Afdeling B van die T20-Wêreldbeker-toernooi.

Maar gaan dit genoeg wees?

Suid-Afrika het in sy openingswedstryd van die T20-WB-toernooi op 'n drafstap met die Wes-Indiese Eilande, kampioen van 2016, afgereken. Mlaba het 4/29 geneem en die Karibiese vroue tot 118/6 beperk.

Laura Wolvaardt (59) en Tazmin Brits (57) het die Proteas na 119/0 gekolf met 13 balle oor.

Marizanne Kapp, Suid-Afrika se voorste veelsydige speler, het agterna aan Rapport onthul dat Van Niekerk, haar lewensmaat en voormalige SA kaptein, 'n gesprek gehad het met Mlaba.

"Hulle het 'n baie goeie verhouding en Leftie (Mlaba) kyk op na Dané. Toe sy van die veld af gekom het ná haar briljante 4/29 het sy aan my gesê die wenk wat Dané aan haar gegee het om haar aksie te voltooi, het 'n groot verskil gemaak aan haar boulwerk," sê Kapp.

Paul Adams, draai-afrigter van die Proteas, het die laaste paar maande Mlaba se boul-aksie verbeter. Die linksdraaier het haar spoed ook beter gevarieer danksy Adams se ingryping.

Die wedstryd môre kan bepaal wie boaan die puntelys eindig in die groepfase. Verloor die Proteas, sal hulle moontlik met Australië, die groepswenner in Groep A en sesmalige voormalige T20-WB-wenners, te doene kry in die halfeindronde.

Wen die Proteas, is hul taak in 'n potensiële halfeindstryd moontlik effens makliker teen Indië of Nieu-Seeland.

Nonkululeko Mlaba
Nonkululeko Mlaba

Suid-Afrika het 'n uiters moeilike taak in die Sharjah-krieketstadion waar die bal skerp gaan draai teen drie Engelse draaiers van formaat - Sophie Ecclestone, Sarah Glenn en Charlie Dean.

"Engeland het draaiers van formaat. Hulle sal reg wees vir die uitdaging," sê Kapp.

"Ons sal op ons beste moet wees om hulle te kan hanteer. Ons het aan baie meer opsies gewerk en gepoog om meer aanvallend te raak. As kolfeenheid het ons verbeter, maar daar lê nog harde werk voor," sê Kapp.

Ecclestone was al by meer as een geleentheid Suid-Afrika se Nemesis. Sy het in die WB-halfeindronde van 2022 met 'n ontleding van 6/36 vorendag gekom en só die Proteas eiehandig gesink.

In die T20-WB-halfeindronde van 2023 op Nuweland het die linksdraaier weer indringende vrae gestel met haar 3/22 in vier beurte. Brits (68) en Wolvaardt (53) het egter gesorg vir 'n aanvangsvennootskap van 96 en hul bydraes het die SA vroue tot 'n sege met ses lopies geïnspireer.

Baakier Abrahams, kolfafrigter van die SA vroue, het die afgelope ses maande die top- en middelorde se opsies teen die draaiers verbreed en veral daarop gefokus dat hulle die slag so goed as moontlik roteer.

Brits is een van die begunstigdes van Abrahams se werk. Sy en Wolvaardt het hul voete skitterend teen die Windies se stadige boulers gebruik en ook die veeghou ingespan om skade aan te rig. Brits se spel teen wegbreekboulers was lank 'n Achilleshiel, maar te oordeel na haar vertonings die afgelope drie maande, is dit nie meer so nie.

"Teen spanne soos die Aussies, Engeland en Indië moet al 11 spelers 'n bydrae lewer en nie net enkeles nie," sê Kapp.

Adams sê die Proteas sal baie put uit hul vorige sege oor die Engelse in die T20-WB-halfeindronde: "Hierdie span is selfversekerd en reg vir die stryd."

Die Proteas speel op 9 Oktober teen Skotland en op 12 Oktober teen Bangladesj.

SPELETJIES VANDAG

CTA