Mulder hou rekord vir die 'groot spelers'

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Wiaan Mulder was die Speler van die Wedstryd in die tweede toets teen Zimbabwe en Speler van die Reeks met 531 lopies in drie kolfbeurte. Foto: Getty Images
Wiaan Mulder was die Speler van die Wedstryd in die tweede toets teen Zimbabwe en Speler van die Reeks met 531 lopies in drie kolfbeurte. Foto: Getty Images

Dis ongelooflik hoe gesprekke verander het nadat sommiges onlangs nog onseker was of Wiaan Mulder op nommer drie moet kolf en andere selfs gewonder het of hy hoegenaamd in Suid-Afrika se toetsspan hoort.

So sê Shukri Conrad, afrigter van die Proteas, ná die uitstaande toetsreeks wat Mulder teen Zimbabwe gehad het.

Suid-Afrika het die reeks Dinsdag maklik met 2-0 beklink toe hy die tweede toets in Bulawayo reeds op die derde dag met 'n beurt en 236 lopies gewen het. Dít was die Proteas se 10de agtereenvolgende toetssege, wat 'n rekord vir dié span is.

Suid-Afrika het die tuisspan in die tweede toets eers vir 170 en toe vir 220 uitgeboul nadat Mulder, as waarnemende kaptein, 'n SA rekordtelling van 367 onoorwonne lopies in Suid-Afrika se kolfbeurt van 626/5 opgestapel het. Hy het boonop in die eerste toets ook 'n 100-tal aangeteken.

Mulder het Suid-Afrika se eerste kolfbeurt Maandag - met sy eie telling net 33 lopies kort van Brian Lara se wêreldrekord van 400* - gesluit verklaar.

"Ek het hom gevra wat sy denke is en hy het vir my gesê ek dink ons moet boul.

"Ek het gesê wat van die rekord? Hy het gesê hy is oukei - laat ons dit vir die groot spelers hou.

"Dit sê alles van Wiaan. Dit sê alles van hoe hy sy krieket wil speel en hoe hy onthou wil word. Ek respekteer dit."

Conrad was ook beïndruk met van die nuwelinge, wat byna soomloos in hul eerste paar toetse ingeval het.

Hy sê die tienerkolwer Lhuan-dré Pretorius sal beslis ter sprake vir die volgende toetsreeks op die subkontinent wees.

Die 19-jarige Pretorius het sy 153 in die eerste toets met 78 in die tweede opgevolg.

"Hy is 'n spesiale talent. Dis moeilik om te ignoreer wat hy hier gedoen het. Hy is beslis ter sprake vir die subkontinent later vanjaar."

Conrad was ook beïndruk met vordering van die snelbouler Codi Yusuf, wat soos Corbin Bosch 10 paaltjies in die reeks laat kantel het.

Bosch het in Zimbabwe se opvolgbeurt met 4/38 uitgeblink, maar kon nie 'n agtereenvolgende vyftal aan paaltjies in die reeks kry nie. Hy het sy veelsydigheid onderstreep deur in die eerste toets 'n 100-tal aan te teken.

Corbin Bosch het 'n tweede vyftal aan paaltjies in die toetsreeks teen Zimbabwe net-net misgeloop. Foto: Gallo Images
Corbin Bosch het 'n tweede vyftal aan paaltjies in die toetsreeks teen Zimbabwe net-net misgeloop. Foto: Gallo Images (Lee Warren)

Zimbabwe het Dinsdag ná middagete in duie gestort nadat hy in die oggendskof nog redelik weerstand gebied het.

Die tuisspan het op die derde dag op 51/1 in sy opvolgbeurt, 'n agterstand van 405 lopies, voortgekolf.

Hy het met die middagete tot 143/3 gevorder, maar toe die kluts kwytgeraak.

'n Handvol verbroude kanse vroeër het ook die onafwendbare verleng.

Die oornagkolwer Nick Welch het sy derde 50-tal in vyf toetse in die oggendsessie voltooi.

Hy het die opvolgbeurt saam met die aanvangskolwer Takudzwanashe Kaitano voortgesit.

Die draaier Senuram Muthusamy (3/77) het met sy tweede bal van die oggend die eerste paaltjie van die dag laat kantel. Kaitano (40) het 'n aflewering van hom luglangs dekveld toe gestuur.

Die enigste ander paaltjie in die oggendsessie was dié van Sean Williams (11), wat deur Mulder (1/24) geboul is.

Ná middagete het die tuisspan met reëlmaat paaltjies verloor en het hy van 153/3 tot 184/9 in duie gestort.

Welch (55, 126) wat vroeër 'n vangkans op 25 tru van punt van die boulwerk van Muthusamy gebied het, moes eerste terugstap ná middagete. Hy het 'n randjie bygekry by 'n Muthusamy-aflewering en is op glip deur Mulder gevang.

Wessly Madhevere (5) is kort daarna deur Yusuf (2/38) been voor paaltjie betrap. Yusuf het ook die paaltjie gekry van Tafadzwa Tsiga (1), wat vlak op middebaan deur Lesego Senokwane gevang is.

Bosch het toe twee paaltjies in die 65ste beurt laat kantel.

• OORSIG EN TELKAART

Craig Ervine (49) het sy 50-tal misgeloop toe hy deur die paaltjiewagter Kyle Verreynne gevang is waarna Bosch drie balle later vir Kundai Matigimu (0) geboul het.

Blessing Muzarabani (0) is ook kort daarna van Bosch se boulwerk deur Senokwane in die glipkordon gevang. 'n Vyfde paaltjie het hom in sy drie beurte daarna ontwyk.

Wellington Masakadza (17*) en Tanaka Chivanga (22) het Suid-Afrika met 36 lopies om die laaste paaltjie gefrustreer voordat Chivanga aan die bykant deur Mulder van Muthusamy se boulwerk gevang is.

• Die Zimbabwiese naatbouler Matigimu is in sy buiging met 15% van sy wedstrydfooi en 'n strafpunt vir onvanpaste en gevaarlike gedrag beboet, volgens ESPNcricinfo.

Hy het as bouler die bal in sy deurvolg teruggegooi na Pretorius, wat sy polsgewrig beseer het toe hy die bal met die hand probeer keer het. Hy het weens die besering nie veldwerk gedoen nie.

• Die Proteas se eerste wedstryd in die komende T20-drienasiereeks in Harare is Maandag teen Zimbabwe. Nieu-Seeland is die ander deelnemer.

SPELETJIES VANDAG

CTA