Laura Wolvaardt, kaptein van die Protea-vrouekrieketspan, se 39 lopies het die Adelaide Strikers Saterdag gehelp om die Australiese Big Bash-T20-liga vir vroue te wen.
Die Adelaide-Strikers het die span van Brisbane Heat, vir wie die Protea Mignon du Preez gespeel het, op hul tuisveld in Adelaide met net drie lopies geklop en só hul titel suksesvol verdedig.
Wolvaardt se 39 lopies was haar span, wat eerste gekolf het, se meeste. Sy het haar telling van 33 balle aangeteken en vier viere geslaan.
Tahlia McGrath, kaptein van die Adelaide Strikers wat ook vir Australië speel, se 38 lopies was naas Wolvaardt se 39 die meeste.
Die wenspan het in hul toegelate 20 boulbeurte 125/5 aangeteken.
Die besoekers uit Brisbane het in hul 20 boulbeurte 122/8 aangeteken.
Du Preez, wat op nommer vier gekolf het, is vir 13 lopies uitgehaal. Sy het 30 balle getrotseer.






















