Die Warriors het 'n borgskap gekry wat dié Oos-Kaapse krieketspan 'n hupstoot kan gee.

"Die Warriors sal vir die komende plaaslike krieketseisoen, met die uitsondering van die Mzansi-superliga, as die Gbets Warriors bekend staan," sê dr. Mark Williams, die uitvoerende hoof van Krieket Oos-Kaap, in 'n verklaring.
Die Warriors neem plaaslik in Krieket Suid-Afrika se T20-reeks, die Eendagbeker-reeks en die meerdaagse reeks deel.
"Die borgskap is 'n welkome inspuiting in Oos-Kaapse krieket en tesame met die langdurige ondersteuning van die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit, sal dit verseker dat ons op die hoogste vlak mededingend kan bly," sê Williams.
Mergan Naidoo, die uitvoerende hoof van die Goldrush Gaming Group, sê Gbets is "trots" om 'n vennootskap met die Warriors aan te gaan.
"Ons deel dieselfde waardes van integriteit, toewyding en respek in ons strewe om 'n kampioenspan te wees en dit maak ons perfek vir mekaar," sê hy.
OP Krieket is in Mei vanjaar een van die agt plekke in die topliga van plaaslike krieket toegeken. Die ander is Boland, Vrystaat, Gauteng, KwaZulu-Natal Kusspan, Noordwes, Noordelikes en die Westelike Provinsie.
"Dit het 'n einde gebring aan die franchise-stelsel, maar OP Krieket het besluit om die Warriors-naam vir die streek se beroepspan te behou," sê Williams. - Sportredaksie











