Sport

Leclerc bewaarheid oplaas sy kinderdroom in Monaco

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Emosionele Charles Leclerc staan Sondag op sy Ferrari ná sy oorwinning in die Monaco Grand Prix. Foto: Getty Images
’n Emosionele Charles Leclerc staan Sondag op sy Ferrari ná sy oorwinning in die Monaco Grand Prix. Foto: Getty Images

Charles Leclerc (Ferrari) het die sogenaamde vloek van Monaco verbreek toe hy Sondag op sy tuisbaan die Formule Een-Grand Prix gewen het.

Die 26-jarige Leclerc, wat ook in die voorste posisie weggespring het, is gevolg deur Oscar Piastri (McLaren), Carlos Sainz (Ferrari), Lando Norris (McLaren), George Russell (Mercedes) en die die huidige wêreldkampioen, Max Verstappen (Red Bull), was sesde.

Leclerc was die eerste tuisjaer sedert 1931 wat in Monaco kon wen nadat Louis Chiron dit laas op dié straatbaan vermag het.

Geen woorde kan dit beskryf nie. Dit was 'n moeilike ren.

Dit was ook die eerste keer dat Leclerc ná ses probeerslae kon wen in 'n wedren wat in die eerste rondte lank gestaak is ná 'n paar ongelukke.

"Geen woorde kan dit beskryf nie. Dit was 'n moeilike ren. Ek dink die feit dat ek twee keer vantevore in die eerste wegspringposisie was en dit nie toe kon maak nie, maak dit nog beter.

"Dit is 'n wedren waaroor ek gedroom het om 'n Formule Een-jaer te word. Ek was reeds 15 rondtes voor die einde emosioneel en het gehoop niks gebeur nie," het Leclerc gesê.

Charles Leclerc lig sy trofee met 'n baie tevrede prins Albert van Monaco langs hom. Agter staan prinses Charlene.Foto: Reuters
Charles Leclerc lig sy trofee met 'n baie tevrede prins Albert van Monaco langs hom. Agter staan prinses Charlene.Foto: Reuters

"Ek het baie meer aan my pa gedink terwyl ek gejaag het. Hy het alles vir my gegee om hier te wees. Dit was 'n droom van ons en om hier te kan jaag en om te wen, is ongelooflik," het Leclerc bygevoeg.

Verstappen, wat die wedren in 2023 gewen het, is slegs die derde keer in vanjaar se eerste agt wedrenne geklop.

Leclerc het met sy sege die voorsprong tussen hom en Verstappen tot 29 punte laat krimp.

Verstappen het nou 169 punte, gevolg deur Leclerc (138), Norris (113), Sainz (108), Sergio Perez (107) en Piastri (71).

Die wedren is in die eerste rondte ontwrig en tydelik gestaak nadat Perez se Red Bull afgeskryf is nadat hy, Kevin Magnussen en Nico Hülkenberg (albei Haas) in 'n ongeluk was.

Die twee Haas-motors het van die laaste wegspringposisies af weggespring nadat hul span die reëls oor agterste drukvlerke oortree het.

Magnüssen het gebots teen Perez, wat toe 'n veiligheidsreling getref het. Hy het toe Hülkenburg se motor getref.

Die wrak van Sergio Perez se Red Bull. Die Mexikaan het ongedeerd uitgeklim ná 'n botsing met Kevin Magnüssen en Nico Hulkenberg.Foto: Getty Images
Die wrak van Sergio Perez se Red Bull. Die Mexikaan het ongedeerd uitgeklim ná 'n botsing met Kevin Magnüssen en Nico Hulkenberg.Foto: Getty Images

Al drie jaers was ongedeerd en kon uit hul motors klim, met wrakstukke wat oor die baan gestrooi was.

Rooi vlae is gewaai en die Grand Prix is lank onderbreek.

Die twee Alpines van Pierre Gasly en Esteban Ocon was ook in 'n ongeluk betrokke met Ocon se Alpine wat in die lug geskiet het.

Nadat die wedren hervat is, was dit maar bra eentonig, maar dit het die Ferrari-span en Leclerc soos 'n handskoen gepas.

Die volgende ren is die Kanadese Grand Prix op 9 Junie op die Circuit Gilles Villeneuve. - Sportredaksie, BBC, Reuters

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM