As die leser praat, moet die skrywer ag slaan. Sabine het in 'n SMS laat weet dat sy glad nie ingenome is met die standpunt wat Om die Baan verlede week ingeneem het nie. Daarin is die huidige seisoen van Formule Een (F1) met 'n CD wat gekrap is en dan vashaak en dieselfde lirieke van dieselfde liedjie oor en oor speel vergelyk - Max Verstappen is onstuitbaar in sy Red Bull; Ferrari maak flaters en sukkel met tegniese probleme, maar is steeds die naaste aan Red Bull; Mercedes sit die pot (en die podium) mis, maar is die enigste span wat (soms) in Red Bull en Ferrari se nekke blaas.
"Hanri Wondergem is net suur omdat haar Ferrari-manne nie meer op die hoogste trap van die podium staan nie. Formule Een is beslis nie soos 'n CD wat vashaak nie, dis naelbyt-spannend, en nie voorspelbaar nie. Max Verstappen is meesterlik. Skryf 'n bietjie iets moois oor hom, ag toe, Hanri!" skryf Sabine.
Verlede naweek se Grand Prix in Nederland was spannend, daarmee kan 'n mens nie stry nie - veiligheidsmotors (virtueel en fisiek) het bygedra tot die opwinding (onthou dat daar verlede week na "uitskieters en uitsonderings" verwys is?).
Tog het die CD maar weer gehaak. Verstappen in sy Red Bull het (weer) gewen. Ferrari het flaters begaan (Carlos Sainz was immers vir 12,7 sekondes in die kuipe en dit het gelyk of sy span vergeet het 'n renmotor het vier bande). Mercedes het die pot misgesit, maar darem nie die podium nie - George Russel was op die podium, maar sy spanmaat, Lewis Hamilton, se frustrasie was hoorbaar in die kragwoorde oor die radio omdat sy span se strategie oor sy bande hom in die steek gelaat het.
En dieselfde CD (met dieselfde krapmerke) word vir die naweek se Italiaanse Grand Prix voorspel.
G'n mens kan egter nie saam met Sabine stem as dit by Verstappen kom nie - die man is inderdaad meesterlik. En dis nie net omdat hy agter die stuur van 'n fantastiese renmotor inskuif nie.
Verstappen het 'n natuurlike talent en aanvoeling. Hy beskik oor instinkte wat vir hom die selfvertroue gee om risiko's te neem. Hy is nie deesdae net kalm onder druk nie, hy floreer. Hy het 'n vlak van volwassenheid bereik wat hom in staat stel om hom nie te veel te steur aan enige iets wat buite sy renmotor gebeur nie - gerugte, die media, ander renjaers se menings traak hom nie.
Verstappen is gemaklik in sy eie vel en in sy renmotor, hy vertrou sy Red Bull-span en die span vertrou hom.
Hy is werklik tans onstuitbaar en net 24 jaar oud - daarom bestaan die moontlikheid dat hy net beter en beter gaan word.
Al steek my (rooi) onderrok uit (ja, Sabine het my uitgevang, ek is gaande oor Ferrari), is daar in my geen twyfel dat Verstappen vir nog vele skouspelagtige oomblikke gaan sorg nie.
Daar is immers selfs 'n liedjie, getiteld Super Max!, oor hom geskryf. In aantog tot môre se Grand Prix in Italië sal ek die liedjie luidkeels saamsing - die CD is nie gekrap nie, die lirieke word met opset herhaal.
"Het is een bazend wereldwonder (Hy is 'n meesterlike wonder van die wêreld)
Max Max Max
Super Max Max
Super super Max Max Max
Super Max Max!"
- Wondergem is 'n redaksielid van Beeld en verknog aan F1.






















