Menings

Tyd dat Comrades (én Twee Oseane) anders begin dink

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Gerda Steyn wen verlede Sondag die afdeling vir vroue in die Comrades-wedloop tussen Pietermaritzburg en Durban..Foto: Gallo Images
Gerda Steyn wen verlede Sondag die afdeling vir vroue in die Comrades-wedloop tussen Pietermaritzburg en Durban..Foto: Gallo Images

Die tyd het aangebreek dat die reël van die Comrades-wedloop (én die Twee Oseane) deur professionele byeenkomsorganiseerders - hetsy maatskappye of individue - gedoen word.

Dít het die talle haakplekke met Sondag se 98ste Comrades, soos die chaos by die eindpunt en die feit dat daar oor die eerste helfte van die wedloop nie tafels op die roete was vir die waterbottels van die elite-atlete nie, gewys.

Dit is dringend noodsaaklik dat daar opnuut gekyk word na die reëling van die wedloop voor die 100ste Comrades sedert 1921 oor twee jaar plaasvind.

Die roemryke Comrades, wat vanjaar meer as 20 000 deelnemers gelok het, kan nie meer deur net vrywilligers en amateurs aangebied word nie.

Tans is die raad van die Comrades-vereniging (CMA), wat die wedloop reël, terselfdertyd die organiseerders én die toesighouers.

Ja, dis dalk goedkoper, maar dis nie tot voordeel van die wedloop nie. Dié rolle moet geskei word.

Die wedloop moet deur professionele mense gereël word, terwyl die CMA-raad 'n toesighoudende rol kan speel.

Hy moet onder meer toesien dat die Comrades sy wonderlike tradisies behou en dat daar voldoen word aan die reëls van Atletiek Suid-Afrika en Wêreldatletiek.

Die reël van die grootste ultrawedloop in die wêreld is 'n uiters komplekse een en dit word jaar ná jaar nog meer kompleks.

Die eindpunt van verlede Sondag se Comrades-wedloop in People's Park buite die Moses Mabhida-stadion in Durban. Foto: Gallo Images
Die eindpunt van verlede Sondag se Comrades-wedloop in People's Park buite die Moses Mabhida-stadion in Durban. Foto: Gallo Images

Dit is ingewikkeld onder meer weens die ontwikkeling van tegnologie en die Wet op Veiligheid in Sport en Ontspanningsgebeure (Sasrea) van 2010, wat in samewerking met byvoorbeeld plaaslike owerhede, die polisie en nooddienste nagekom móét word.

Dit is juis die nie-nakoming van die Sasrea-wet wat meegebring het dat die Kaapstad-metro sy borgskap van die Twee Oseane opgeskort het.

Dit maak nie saak of die lede van die huidige CMA-raad almal ervare Comrades-hardlopers is nie.

Dit maak hulle nie kenners op die gebied van die reëling van wedlope nie. Hulle het eenvoudig nie die nodige kennis en ervaring om 'n wedloop van dié omvang aan te bied nie.

Ja, hulle kan waardevolle bydraes lewer, maar dit sal beter vir die toekoms van die Comrades wees as professionele mense die wedloop reël.

Suid-Afrika hét die kundigheid om die wedloop tot op 'n hoër vlak te neem.

Wat nou nodig is, is mense wat tot in die fynste besonderhede kan beplan en kan seker maak dit word tot uitvoering gebring.

Vrywilligers - 'n groot bousteen van die Comrades - het steeds 'n rol te speel in die uitvoering van die groter plan.

Die Comrades is klaar die grootste ultra-wedloop in die wêreld. Sy strewe moet nou wees om ook die beste te wees.

Die CMA kan gerus gaan kers opsteek by die organiseerders van die wêreld se grootste stadsmarathons soos Londen, Boston, Berlyn en New York oor die manier waarop hulle hul wedlope reël.

Ja, dié wedlope is nie ultra-wedlope nie, maar die beginsels bly dieselfde.

Dié groot stadsmarathons word nie meer deur amateurs en vrywilligers gereël nie. Die Londen-marathon het byvoorbeeld 120 voltydse werknemers.

Die Comrades het net 'n handvol mense in Comrades-Huis in Comrades-straat, Pietermaritzburg.

Die CMA kan ook by die Kaapstad-marathon en die Kaapstad-fietswedren gaan aanklop vir raad.

Dié twee byeenkoms word deur professionele byeenkomsorganiseerders aangebied en is suksesvol.

Sarel van der Walt voor die stadsaal van Pietermaritzburg.
Sarel van der Walt voor die stadsaal van Pietermaritzburg.

Die belangrikste pos in die Comrades is dié van wedloopdirekteur, wat 'n bewese geskiedenis van die aanbieding van wedlope moet hê.

Dié pos en die pos van hoofbestuurder moet geskei word.

Dit is ook nodig dat die wedloop onder meer 'n kommersiële bestuurder, 'n logistieke bestuurder en 'n mediabestuurder aanstel, wat aan die raad verantwoording doen.

Dit sal borge ook meer gerusstelling gee.

Die Comrades is 'n trotse en ikoniese Suid-Afrikaanse produk en hy mag nie verwater word nie. Hy lewer immers dekades lank al 'n onskatbare bydrae tot nasiebou.

En wie weet, die Pietermaritzburgse treindrywer Vic Clapham, wat 104 jaar gelede die eerste Comrades tussen Pietermaritzburg en Durban 1921 gereël het, sou dalk ook gesê het dis tyd dat die Comrades anders begin dink.

• Sarel van der Walt het vanjaar die 33ste keer sedert 1988 oor die Comrades verslag gedoen. Hy het ook 20 keer die Twee Oseane as sportjoernalis gedek.

-svdwalt@media24.com

CTA