‘Brad Binder is 'n dier."
Dit was die Italiaanse MotoGP-jaer Marco Bezzecchi se woorde nadat hy in Nederland rondte ná rondte gesukkel het om verby die vasberade Suid-Afrikaner te kom.
Binder is in MotoGP-kringe bekend vir 'n paar dinge: Sy rustige geaardheid, gebrek aan ego, vasbyt en die manier waarop hy sy KTM tot op die rand van die afgrond druk.
Voeg daarby die feit dat die Red Bull KTM's vanjaar stukke beter is as in die verlede en Binder is skielik 'n podium-mededinger. Hy hou ook tans die rekord vir die hoogste snelheid tot nog toe op 'n MotoGP-fiets: 366,1 km/h.
Die KTM's is nie net blitsig nie, maar hanteer ook beter as ooit - onder meer nadat Red Bull se Formule Een-ingenieurs met die ontwerp van die jongste RC16- vaartskerm gehelp het. In die verlede het dit lank geduur voordat die KTM's se voorbande die regte temperatuur bereik het vir waarlik vinnige rondtetye. (Dit was die hoofrede waarom Binder gesukkel het om op 'n Saterdag goed te kwalifiseer.) Maar dis iets van die verlede.
Hy is gevolglik in die beste posisie tot dusver. In 2021 het hy sesde in die kampioenskap geëindig, met 151 punte. Hy was verlede jaar weer sesde, maar het 188 punte agter sy naam geskryf.
Met 'n derde van vanjaar se seisoen agter die blad, is hy tans in die vierde plek met reeds 114 punte.
Die spanne hou tans, met agt uit die 20 renne voltooi, hul somervakansie en tree eers weer op 6 Augustus in Brittanje aan.

Binder het beslis gebaat by die naelrenne op Saterdae wat vanjaar ingestel is. Hy het twee van dié korter formaat-renne gewen en net op daardie dae 24 punte ingesamel. Waarom is hy dan nie hoër op die punteleer nie?
Omdat ware bestendigheid steeds ontbreek. Hy jaag só hard dat daar geen ruimte vir foute is nie. Gepraat van glipse: Hy het op Assen in Nederland boonop 'n dubbelfout begaan en moes in beide die naelren én die Grand Prix sy derde plek afstaan omdat hy in die doodsnikke van die renne net-net die baan se grens in dieselfde draai oorgesteek het.
Binder het nog net een keer vanjaar ná 'n Grand Prix sjampanje geproe - en die meerderheid kampioenskapspunte lê in Sondae se vollengte-renne.
Toe hy in Spanje die naelren gewen het en tweede was in die GP, is hy byvoorbeeld met 32 punte beloon.
Vergelyk sy Grand Prix-podiumplekke met die drie jaers voor hom s'n: Francesco Bagnaia (Lenovo Ducati) was al vyf keer daar en het 194 punte teenoor Binder se 114; Jorge Martin (Pramac Ducati) was drie keer (159 punte) en Bezzecchi (Mooney VR46 Ducati) vier keer (158 punte).

Johann Zarco (Pramac Ducati) het vier podiumplekke behaal en is net vyf punte agter die Suid-Afrikaner.
Binder het al ses keer geval vanjaar - drie keer daarvan in 'n Grand Prix, wat hom duur te staan gekom het.
Veral in Duitsland, waar hy in die derde plek was toe hy te hard gerem en sy linkervoet van die voetrus gegly het. Hy is van die baan en toe hy die fiets probeer terugdwing, het sy agterband gesê genoeg is genoeg en onder hom uitgegly.
Bygesê, albei die ander voorvalle was op 'n verraderlike nat baan en hy het elke keer opgespring en voortgejaag.
In Austin, Texas, het hy in die 11de plek weggespring nadat hy die vorige dag vyfde in die naelren was. Hy het egter in 'n draai gegly en moes sy fiets optel en die ander jaers agterna sit. Hy was laaste, maar soveel ander jaers het ook geval dat daar net 12 voor hom geëindig het.
In Argentinië was hy weer Binder die Dier en het hy die naelren vanaf die 15de wegspringplek gewen. Die volgende dag is hy egter in 'n draai deur Maverick Viñales gestamp en het oor die nat baan gegly. Hy is later eers 17de verby die geruite vlag.
Dit kon egter erger gewees het. Daar is 11 jaers wat meer as hy geval het vanjaar, onder andere die "rekordhouer", Marc Marquez, wat al 14 keer met sy Repsol Honda neergesloeg het.
Staan Binder nog 'n kans om die titel huis toe te bring?
Waarskynlik nie. Hy is 'n buiteperd, maar alles in ag genome is dit nie sy skuld nie.
MotoGP word deur die Ducati's oorheers en al het Binder bewys die KTM is vinnigste op die pylvak, het hulle die beste algehele pakket.
Veral Bagnaia, wat nie net die heel beste Ducati kry om mee te jaag nie, maar wat ook kophou en geduldig is wanneer nodig - soos dit 'n ware kampioen betaam. (Sien, bestendigheid tel.)
Om te verwag dat iemand op 'n KTM hom sommer gaan ontsetel, is soos om te sê die Aston Martins is ook vinnig vanjaar en Fernando Alonso kan die F1-kampioenskap wen. Daarvoor het die Red Bulls net te ver ontwikkel.
Moet ons Binder dan ook as topdrie-mededinger afskryf? Nooit nie.
Daarvoor het die Dier net te veel vasbyt.






















