Dit gaan voorspoedig met Johannesburgse netbal.
Einde verlede jaar het die distrikspan van Johannesburg die Suid-Afrikaanse kampioenskappe gewen, onder die afrigting van Elsjé Jordaan.
Die Gautengers het toe in die eindstryd in Johannesburg naelskraap met Mangaung afgereken.
In dieselfde toernooi was die voormalige Protea-kaptein Bongiwe Msomi die breier van Johannesburg se o. 21's, wat die titel gewen het.
Toe word Msomi vanjaar hulpafrigter vir Jordaan by die Golden Fireballs en 'n mens het geweet dit is 'n sterk kombinasie.
Met dié twee aan die spits, het die Johannesburgers Sondag in Durban die trofee in die Nasionale Liga omhoog gehou nadat hulle in die eindstryd met 47-40 met die Crinums afgereken het. Die Vrystaters was die verdedigende kampioen.
Die Fireballs was onoorwonne in 14 wedstryde.
"Die oorwinning is baie spesiaal, dit was beslis 'n poging van 12 spelers," het Jordaan ná die eindstryd gesê.

"Ek en Bongi werk so goed saam en Tasneem Casoojee (spanbestuurder) en Amy Abel (fisioterapeut) het hul pligte uitgevoer en ons ondersteun. Ek is so dankbaar."
Die boustene vir die Fireballs se sukses is in 2022 gelê toe hulle hul eerste titel gewen het.
Die Gautengers het in 2024, 2023, 2020 en 2017 die bronsmedalje gewen.
"Dit is 'n jong span, hy moes leer om halfeindstryde te wen en hoe om 'n eindstryd te speel," het Jordaan gesê.
"Ons het 'n paar o. 21-spelers wat nie by ons was nie. Hulle is tans in die SA o. 21-groep.
"Ons sal hulle volgende jaar terughê, maar sal die kern van die groep behou en hierop voortbou."
Nog 'n kersie op die Goudstad se koek was toe Msomi se studentespan, die Universiteit van Johannesburg, onlangs die Ussa-toernooi gewen het.
Ná 'n bedrywige paar weke kry spelers en afrigters 'n blaaskans totdat die Varsitybeker-reeks op 24 Augustus begin.

Die Fireballs het twee individuele eerbewyse ontvang. Tarle Mathe (verdedigende vleuel) is beloon as die Speler van die Toernooi en Owethu Ngubane (hulpdoel) as die beste doelskieter.
Die nuwe kampioene in die Nasionale Liga het R200 000 gewen.
Die Noord-Gautengse Jaguars het die bronsmedalje gewen. Die res van die spanne het só geëindig: Southern Stings, Flames, Aloes en Baobabs.
• KwaZulu-Natal se Kingdom Stars het Afdeling B se eindstryd gewen, asook hul promosie-relegasiewedstryd om bevordering te kry na Afdeling A.
Die Stars sal die Baobabs van Limpopo se plek neem.




















